Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 9:9-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Vroeër, wanneer iemand gegaan het om God te raadpleeg, is daar in Israel gesê: “Kom ons gaan na die siener toe.” Die profeet van vandag is vroeër siener genoem.

10. Saul het vir sy slaaf gesê: “Dis 'n goeie plan. Kom ons gaan.”Hulle het na die stad toe gegaan waar die man van God was.

11. Terwyl hulle die opdraand na die stad toe opgaan, het hulle meisies teëgekom wat gaan water skep het, en vir hulle gevra: “Is die siener hier?”

12. Hulle het geantwoord: “Hy is daar in die stad voor u. Maak gou! Hy het vandag na hierdie stad toe gekom, want die volk bring vandag 'n offer op die hoogte.

13. Wanneer julle die stad binnegaan, sal julle hom kry net voor hy na die hoogte toe opgaan om te eet. Die mense eet nie voor hy gekom het nie, want hy moet die offer seën. Daarna eet die genooides. Gaan dadelik, want julle sal hom nou daar kry.”

14. Hulle is na die stad toe en toe hulle die stad ingaan, kom Samuel juis in hulle rigting om na die hoogte toe op te gaan.

15. 'n Dag voor die koms van Saul het die Here vertroulik aan Samuel geopenbaar:

16. “Môre teen hierdie tyd sal Ek 'n man uit die gebied van Benjamin na jou toe stuur. Jy moet hom tot regeerder oor my volk Israel salf. Hy sal my volk red uit die mag van die Filistyne, want Ek het op my volk ag geslaan. Ja, hulle hulpgeroep het My bereik.”

17. Net toe Samuel vir Saul sien, het die Here vir hom gesê: “Dit is die man van wie Ek jou gesê het hy sal oor my volk regeer.”

18. Saul het vir Samuel in die poort teëgekom en vir hom gesê: “Sê my asseblief waar is die huis van die siener.”

19. Samuel sê toe vir Saul: “Ek is die siener. Gaan saam met my na die hoogte toe. Julle moet vandag saam met my gaan eet. Môreoggend sal ek jou laat gaan. Oor alles wat jou kwel, sal ek jou inlig.

20. Jou donkies is vandag al drie dae weg. Jy moet jou egter nie oor hulle bekommer nie, want hulle is gekry. Maar aan wie behoort die kosbaarste goed in die hele Israel? Is dit nie aan jou en jou hele familie nie?”

21. En Saul antwoord: “Ek is maar net 'n Benjaminiet, uit die swakste stam van Israel. Boonop is my familie die kleinste in die stam Benjamin! Waarom praat u so met my?”

22. Samuel het Saul en sy slaaf saamgevat en hulle na die eetplek toe gebring. Hy het hulle 'n ereplek onder die genooides gegee. Daar was omtrent dertig man.

23. Samuel het vir die kok gesê: “Bring die deel wat ek aan jou gegee het en waarvan ek gesê het: Sit dit eenkant.”

24. Die kok het die boud vleis gevat en voor Saul neergesit, en Samuel het vir hom gesê: “Dit is wat uitgehou is. Eet wat voor jou neergesit is, want vir hierdie geleentheid is dit vir jou gebêre toe ek die mense genooi het.”So het Saul dan daardie dag saam met Samuel geëet.

25. Daarna het hulle van die hoogte af na die stad toe gegaan. En Samuel het met Saul op die huis se dak gepraat.

26. Die volgende môre het hulle vroeg opgestaan. Toe die rooidag uitkom, het Samuel al na Saul op die dak geroep: “Staan op! Ek wil 'n ent met jou saam stap.”Saul het toe opgestaan, en hy en Samuel het buitetoe gegaan.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 9