Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8:54-66 Afrikaans 1983 (AFR83)

54. Nadat Salomo klaar hierdie gebed en smeking tot die Here gerig het, het hy opgestaan van waar hy voor die altaar van die Here gekniel het met sy hande uitgestrek na die hemel toe.

55. Hy het gaan staan en die hele gemeente van Israel hardop geseën:

56. “Geloof sy die Here wat aan sy volk Israel 'n vaste woonplek gegee het soos Hy beloof het. Nie een van die goeie beloftes wat Hy deur sy dienaar Moses gemaak het, het onvervul gebly nie.

57. Mag die Here ons God by ons wees soos Hy by ons voorvaders was. Mag Hy ons nooit verlaat of laat vaar nie.

58. Mag Hy ons gewillig maak om altyd volgens sy wil te leef en ons te hou aan sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat Hy ons voorvaders opgelê het.

59. Mag hierdie woorde van my wat ek in my smeking voor die Here uitgespreek het, dag en nag by Hom, die Here ons God, wees, sodat Hy die reg van sy dienaar en van sy volk Israel sal handhaaf soos dit van dag tot dag nodig mag wees.

60. Dan sal al die volke van die wêreld besef die Here is God; daar is nie 'n ander nie.

61. Mag julle met volle oorgawe voor die Here ons God leef volgens sy voorskrifte en julle hou aan sy gebooie, so soos dit vandag is.”

62. Die koning en die hele Israel het vir die Here offerandes gebring.

63. Salomo het twee en twintig duisend beeste en honderd en twintig duisend stuks kleinvee as maaltydoffer geoffer. So het die koning en al die Israeliete die huis van die Here ingewy.

64. Daardie dag het die koning die middelgedeelte van die voorhof wat reg voor die huis van die Here is, gewy, want daar het hy die brandoffer en die graanoffer en die vetgedeeltes van die maaltydoffers verbrand. Die bronsaltaar wat voor die tempel van die Here gestaan het, was te klein vir die brandoffer en die graanoffer en die vetgedeeltes.

65. Salomo, en die hele Israel saam met hom wat gekom het van Lebo-Hamat af tot by Egiptespruit, 'n groot gemeente, het destyds sewe dae lank fees gehou ter ere van die Here ons God, en daarna weer sewe dae, veertien dae altesaam.

66. Die dag daarna het Salomo die volk laat gaan. Hulle het hom gegroet en is terug huis toe, bly en gelukkig oor die goeie dinge wat die Here gedoen het aan sy dienaar Dawid en sy volk Israel.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 8