Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:5-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. “Jy weet self wat Joab seun van Seruja my aangedoen het, wat hy gedoen het met die twee leërhoofde van Israel, met Abner seun van Ner en met Amasa seun van Jitra: hy het hulle vermoor, hy het hulle in vredestyd doodgemaak asof daar oorlog was. Hy het hulle onskuldige bloed op die gordel om sy lyf en op die skoene aan sy voete laat spat.

6. Doen met hom soos jy dit goedvind. Moenie sy lewe spaar net omdat hy oud is nie.

7. “Jy moet goed wees vir die seuns van Barsillai van Gilead. Laat hulle van jou tafel af eet, want hulle het vir mý kos gebring toe ek vir jou broer Absalom gevlug het.

8. “Daar is ook nog Simeï seun van Gera die Benjaminiet, uit Bagurim. Hy het my vreeslik gevloek toe ek die dag na Maganajim toe gegaan het en ons mekaar by die Jordaan teëgekom het. Ek het vir hom voor die Here met 'n eed bevestig dat ek hom nie om die lewe sal bring nie,

9. maar jy moet hom nou nie verskoon nie. Jy is 'n wyse man en jy sal weet wat om met hom te maak dat hy met die dood gestraf word al is hy al oud.”

10. Dawid is oorlede, en hy is begrawe in die Dawidstad.

11. Die duur van sy regering oor Israel was veertig jaar. In Hebron was hy sewe jaar lank koning, en in Jerusalem drie en dertig jaar.

12. Salomo het sy pa se troon bestyg en 'n stewige houvas op sy koningskap gekry.

13. Adonia seun van Gaggit het na Batseba, Salomo se ma, toe gegaan. Sy het vir hom gevra: “Kom jy in vrede?”“Ja,” sê hy,

14. “ek kom net met u praat.”“Praat maar,” sê sy.

15. Hy sê toe: “U weet self dat die koningskap myne sou word, en dat die hele Israel na my opgesien het om te regeer. Maar dit het anders verloop, die Here het dit so bestem dat my broer koning geword het.

16. Ek wil u nou net een guns vra, en u moet my dit nie weier nie.”“Vra maar,” sê sy.

17. “Koning Salomo sal mos na u luister,” sê hy toe. “Vra hom asseblief dat hy vir my die Sunemmitiese meisie Abisag as vrou gee.”

18. “Goed,” sê Batseba, “ek sal jou versoek aan die koning oordra.”

19. Toe Batseba by koning Salomo binnekom om Adonia se versoek te gaan stel, het Salomo opgestaan en voor haar gebuig. Hy gaan toe weer op sy troon sit en laat vir die koninginmoeder 'n stoel aan sy regterkant naderbring om op te sit.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2