Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 7:22-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. Omdat Moses die besnydenis vir julle gegee het — en eintlik kom dit nie eens van Moses af nie, maar van die aartsvaders — besny julle ook op 'n sabbatdag.

23. As iemand op 'n sabbatdag die besnydenis mag ontvang om nie die wet van Moses te verbreek nie, waarom is julle dan vir My kwaad omdat Ek op 'n sabbatdag iemand se hele liggaam gesond gemaak het?

24. Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.”

25. Intussen het party van die inwoners van Jerusalem gesê: “Is dit nie die man vir wie hulle wil doodmaak nie?

26. En hier praat hy nou in die openbaar, en hulle sê niks teen hom nie. Het die lede van die Joodse Raad miskien werklik tot die oortuiging gekom dat hy die Christus is?

27. Ons weet tog waar hierdie man vandaan kom; maar wanneer die Christus kom, sal niemand weet waar Hý vandaan kom nie.”

28. Terwyl Jesus die mense in die tempel leer, het Hy uitgeroep: “Ja, julle ken My, en julle weet ook waar Ek vandaan kom. En tog het Ek nie uit my eie gekom nie, maar dit is die ware God wat My gestuur het, en vir Hom ken julle nie.

29. Ek ken Hom, omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.”

30. Hulle wou Hom toe gevange neem, en tog het niemand dit gedoen nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie.

31. Maar baie van die mense het tot geloof in Hom gekom en het gesê: “Wanneer die Christus kom, sal Hy tog seker nie meer wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie?”

32. Die Fariseërs het gehoor wat die mense oor Hom fluister, en hulle en die priesterhoofde het wagte gestuur om Hom gevange te neem.

33. Jesus sê toe: “Nog net 'n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek terug na Hom toe wat My gestuur het.

34. Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie.”

35. Toe sê die Jode vir mekaar: “Waarheen sou hy van plan wees om te gaan dat ons hom nie sal kry nie? Hy is tog nie van plan om na die Griekssprekende Jode in die buiteland te gaan en die Grieke daar te leer nie?

36. Wat bedoel hy met die woorde: Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie?”

37. Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!

Lees volledige hoofstuk Johannes 7