Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 13:23-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, het net langs Hom aan tafel gesit.

24. Simon Petrus beduie toe vir hom dat hy moet vra wie dit is wat Jesus bedoel.

25. Hy leun toe oor na Jesus se kant en vra vir Hom: “Here, wie is dit?”

26. Jesus het geantwoord: “Dit is die een vir wie Ek 'n stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee.”Hy vat toe 'n stukkie brood, steek dit in die sous en gee dit vir Judas seun van Simon Iskariot.

27. En nadat Judas die stukkie brood gevat het, het die Satan in hom ingevaar. Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!”

28. Niemand van die ander wat aan tafel was, het geweet waarom Hy dit vir hom gesê het nie.

29. Omdat Judas die beursie gehad het, het party van hulle gedink dat Jesus vir hom sê: “Gaan koop wat ons vir die paasfees nodig het,” of dat hy iets vir die armes moes gaan gee.

30. Nadat Judas dan die stukkie brood gevat het, het hy dadelik uitgegaan. Dit was nag.

31. Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik.

32. En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik.

33. My kinders, Ek is nog net 'n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.

34. Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.

35. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

36. Simon Petrus vra toe vir Hom: “Here, waarheen gaan U?”Jesus het hom geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My volg.”

37. Toe sê Petrus vir Hom: “Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.”

38. “Sal jy jou lewe vir My aflê?” vra Jesus. “Dít verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 13