Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 7:6-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. God het só gesê: ‘Sy nageslag sal bywoners wees in 'n land wat aan ander behoort. Daar sal hulle slawe wees en vier honderd jaar lank baie swaar kry.

7. Maar Ek sal die nasie straf wat hulle as slawe aanhou.’ Verder het God gesê: ‘Daarna sal hulle wegtrek en My op hierdie plek dien.’

8. God het met Abraham 'n verbond gesluit waarvan die besnydenis die teken is. So het dit gekom dat Abraham sy seun Isak op die agste dag na sy geboorte besny het. Isak het dieselfde gedoen met Jakob, en Jakob met die twaalf stamvaders.

9. “Uit jaloesie het die stamvaders vir Josef as slaaf verkoop, en so is hy Egipte toe. Maar God was by hom

10. en het hom uit al sy ellende gered. God het aan Josef wysheid gegee, sodat hy in die guns van die farao, die koning van Egipte, gekom het. Die farao het hom as onderkoning van Egipte en as hoof van sy hele koninklike hof aangestel.

11. Later het daar hongersnood in die hele Egipte en ook in Kanaän gekom. Die nood was hoog, en ook ons voorouers kon nie kos in die hande kry nie.

12. Toe Jakob hoor dat daar kos in Egipte is, het hy ons voorvaders op hulle eerste reis daarheen gestuur.

13. Op hulle tweede reis het Josef hom aan sy broers bekend gemaak. Toe het die farao ook van Josef se familie te hore gekom.

14. Josef het vir Jakob, sy pa, en die hele familie laat haal, vyf en sewentig mense altesaam.

15. Jakob het na Egipte toe gegaan en daar het hy en ons voorvaders gesterwe.

16. Hulle liggame is na Sigem toe gebring en begrawe in die graf wat Abraham vir 'n som geld daar in Sigem by die nakomelinge van Hemor gekoop het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 7