Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 7:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die hoëpriester vra toe vir Stefanus: “Is dit waar?”

2. Toe sê Stefanus: “Broers en vaders, luister na My! God, aan wie al die eer toekom, het aan ons voorvader Abraham verskyn toe hy nog in Mesopotamië was, voordat hy in Haran gaan woon het.

3. God het vir hom gesê: ‘Trek uit jou vaderland uit, weg van jou familie af, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys.’

4. Abraham het toe die land van die Galdeërs verlaat en in Haran gaan woon. Ná sy pa se dood het God hom daarvandaan laat trek na hierdie land toe waarin julle vandag woon.

5. God het hom geen eiendom in hierdie land gegee nie, selfs nie 'n handbreedte daarvan nie. Maar Hy het wel belowe om dit as besitting vir hom te gee, en ná hom vir sy nageslag, alhoewel hy nog nie 'n kind gehad het nie.

6. God het só gesê: ‘Sy nageslag sal bywoners wees in 'n land wat aan ander behoort. Daar sal hulle slawe wees en vier honderd jaar lank baie swaar kry.

7. Maar Ek sal die nasie straf wat hulle as slawe aanhou.’ Verder het God gesê: ‘Daarna sal hulle wegtrek en My op hierdie plek dien.’

8. God het met Abraham 'n verbond gesluit waarvan die besnydenis die teken is. So het dit gekom dat Abraham sy seun Isak op die agste dag na sy geboorte besny het. Isak het dieselfde gedoen met Jakob, en Jakob met die twaalf stamvaders.

9. “Uit jaloesie het die stamvaders vir Josef as slaaf verkoop, en so is hy Egipte toe. Maar God was by hom

10. en het hom uit al sy ellende gered. God het aan Josef wysheid gegee, sodat hy in die guns van die farao, die koning van Egipte, gekom het. Die farao het hom as onderkoning van Egipte en as hoof van sy hele koninklike hof aangestel.

11. Later het daar hongersnood in die hele Egipte en ook in Kanaän gekom. Die nood was hoog, en ook ons voorouers kon nie kos in die hande kry nie.

12. Toe Jakob hoor dat daar kos in Egipte is, het hy ons voorvaders op hulle eerste reis daarheen gestuur.

13. Op hulle tweede reis het Josef hom aan sy broers bekend gemaak. Toe het die farao ook van Josef se familie te hore gekom.

14. Josef het vir Jakob, sy pa, en die hele familie laat haal, vyf en sewentig mense altesaam.

15. Jakob het na Egipte toe gegaan en daar het hy en ons voorvaders gesterwe.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 7