Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 6:6-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Die gelowiges het hulle voor die apostels gebring, en dié het vir hulle gebid en hulle die hande opgelê.

7. Die woord van God het verder versprei, en die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem. Selfs 'n groot aantal priesters het gelowig geword.

8. Stefanus, aan wie God baie genade en krag gegee het, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen.

9. Party van die lede van die Sinagoge van die Vrygelate Slawe, soos dit genoem is, wat bestaan het uit Jode wat van Sirene en Aleksandrië afkomstig was, het toe saam met Jode wat van die provinsies Silisië en Asië gekom het, met Stefanus begin redeneer.

10. Hulle was egter nie opgewasse teen die wysheid wat hy van die Gees ontvang het en waarmee hy gepraat het nie.

11. Toe het hulle mense omgekoop om te sê: “Ons het hom teen Moses en God hoor laster.”

12. Hulle het die volk en die familiehoofde en die skrifgeleerdes opgesweep. Dié het op hom afgestorm, hom gegryp en voor die Joodse Raad gebring

13. en vals getuies gekry om te sê: “Hierdie man wil nie ophou om dinge teen die heilige tempel en die wet van Moses te sê nie.

14. Ons het hom hoor sê dat hierdie Jesus van Nasaret die tempel sal afbreek en die voorskrifte wat Moses vir ons gegee het, sal verander.”

15. Toe al die lede van die Raad stip na Stefanus sit en kyk, sien hulle dat sy gesig soos dié van 'n engel lyk.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 6