Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 5:20-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. “Gaan staan in die tempel en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.”

21. Hulle het gehoor gegee en die môre vroeg na die tempel toe gegaan en die mense geleer.Intussen het die hoëpriester en sy ondersteuners die leiers van Israel vir 'n volle vergadering van die Joodse Raad bymekaargeroep en wagte na die tronk toe gestuur om die apostels te gaan haal.

22. Maar toe die wagte daar kom, het hulle hulle nie in die tronk gekry nie. Hulle het teruggekom en vertel:

23. “Ons het die tronk behoorlik toegesluit gekry en die bewaarders op hulle pos voor die deure; maar toe ons oopmaak en ingaan, was daar niemand nie.”

24. Toe die bevelvoerder van die tempelwag en die priesterhoofde dit hoor, was hulle uit die veld geslaan en hulle het gewonder wat van die apostels geword het.

25. Net toe kom daar iemand en sê vir hulle: “Weet julle, die mans vir wie julle in die tronk gesit het, staan daar in die tempel en leer die volk!”

26. Toe het die bevelvoerder en die wagte die apostels gaan haal, maar sonder geweld, omdat hulle bang was die volk steek hulle onder die klippe.

27. Hulle het hulle voor die Raad gebring, en die hoëpriester sê toe vir hulle:

28. “Het ons julle nie uitdruklik belet om die mense in hierdie Naam te leer nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir hierdie man se dood.”

29. Petrus en die ander apostels het geantwoord: “'n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!

30. Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang.

31. God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe.

32. En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.”

33. Toe die Raad dit hoor, was hulle woedend, en hulle wou die apostels doodmaak.

34. Een van die Fariseërs in die Raad, 'n man met die naam Gamaliël, wat as leermeester van die wet van Moses by die hele volk in hoë aansien was, het toe opgestaan en gevra dat die apostels 'n rukkie buitentoe gevat moet word.

35. Daarna sê hy vir die Raad: “Israeliete, julle moet versigtig wees wat julle met hierdie mense gaan doen.

36. 'n Tyd gelede was daar die geval van Teudas, wat in opstand gekom en daarop aanspraak gemaak het dat hy iemand van betekenis is. Hy het 'n aanhang gekry van omtrent vier honderd man. Hy is doodgemaak, en al sy volgelinge is verstrooi, en die opstand het op niks uitgeloop nie.

37. Daarna was dit Judas die Galileër, wat in die tyd van die volkstelling in opstand gekom het met 'n deel van die volk agter hom aan. Ook hy is om die lewe gebring, en al sy volgelinge is uitmekaar gejaag.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 5