Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 4:9-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. julle verhoor ons vandag oor 'n weldaad aan 'n siek man en oor hoe hy gesond gemaak is.

10. Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan — dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het.

11. Hy is“die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is.Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword.

12. “Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.”

13. Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus.

14. En toe hulle nog boonop die gesonde man by die apostels sien staan, kon hulle niks teen hulle inbring nie.

15. Die raadslede het hulle toe beveel om die raadsaal te verlaat en het die saak met mekaar bespreek.

16. “Wat gaan ons met hierdie mense maak?” het hulle gevra. “Dat 'n onmiskenbare wonder deur hulle plaasgevind het, is vir al die inwoners van Jerusalem duidelik. Ons kan dit nie ontken nie.

17. Maar om te voorkom dat hierdie dinge nog verder onder die volk versprei, moet ons hulle met dreigemente verbied om weer in die Naam van Jesus met iemand te praat.”

18. Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie.

19. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God.

20. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

21. Nadat die Raad die apostels daarby nog ernstig gedreig het, het hulle hulle losgelaat. Hulle het dit gedoen omdat hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie en vanweë die houding van die volk, want al die mense het God geprys oor wat daar gebeur het.

22. Die man wat deur hierdie wonder gesond geword het, was immers al oor die veertig.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 4