Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 19:29-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

29. Die oproer het oor die hele stad uitgebrei. Soos een man het die mense na die amfiteater toe gestorm. Hulle het vir Gaius en Aristargos, twee Masedoniërs wat saam met Paulus gereis het, gegryp en saamgesleep.

30. Paulus wou self met die skare gaan praat, maar die gelowiges wou hom dit nie toelaat nie.

31. Ook het party van die hoë amptenare van die provinsie Asië wat goedgesind was teenoor Paulus, vir hom 'n boodskap gestuur om hom te waarsku om nie na die amfiteater toe te gaan nie.

32. Almal het deurmekaar geskreeu, en die hele vergadering was in die war. Die meeste mense het nie geweet hoekom hulle daar bymekaar was nie.

33. Toe die Jode vir Aleksander vorentoe stoot, het party van die mense vir hom gesê wat aan die gang is. Hy het met sy hand gewys dat hy iets vir die volk wil sê.

34. Maar toe hulle merk dat hy 'n Jood is, het hulle almal byna twee uur lank uit een mond aangehou skreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”

35. Uiteindelik het die stadsklerk daarin geslaag om die skare tot bedaring te bring. “Efesiërs,” het hy gesê, “watter mens weet nou nie dat die stad van die Efesiërs die beskermer is van die tempel van die groot Artemis en van haar beeld wat uit die hemel geval het nie?

36. Niemand kan dit betwis nie. Bedaar dus en moenie iets oorhaastigs doen nie.

37. Julle het hierdie mans hierheen gebring alhoewel hulle nie die tempel berowe of ons godin belaster het nie.

38. Die hofsittings word gehou, en daar is regters. As Demetrius en sy vakmanne 'n klag teen iemand het, laat hulle mekaar daar gaan aankla.

39. En as julle verder wil gaan, moet die saak op 'n wettige volksvergadering behandel word,

40. want ons loop gevaar om van opstand aangekla te word oor die dinge wat vandag hier gebeur het. Daar is geen rede vir hierdie oploop nie, en ons sal dit nie kan verantwoord nie.”Deur dit te sê, het hy die byeenkoms uitmekaar laat gaan.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 19