Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 13:37-50 Afrikaans 1983 (AFR83)

37. Maar Jesus se liggaam het nie vergaan nie; God het Hom uit die dood opgewek.

38-39. “Daarom, broers, moet julle goed weet dat wat aan julle verkondig word, die vergewing van sondes deur Hóm is, en dat elkeen wat glo, deur Hom vrygespreek word van alle sondes. Die wet van Moses kon julle nie vryspreek nie.

40. Pas dan op dat wat die profete gesê het, nie met julle gebeur nie:

41. “Kyk, julle verag God!Julle sal verstom staan en te gronde gaan,want in julle tyd doen Ek ietswat julle beslis nie sal gloas iemand dit vir julle vertel nie!”

42. Terwyl hulle die sinagoge verlaat, het die mense vir Paulus en Barnabas gevra om hulle die volgende sabbatdag meer van hierdie dinge te vertel.

43. Nadat die sinagoge uit was, het baie van die Jode en van die mense wat vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het, saam met Paulus en Barnabas gegaan. Dié het met hulle gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou.

44. Die volgende sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om die woord van die Here te hoor.

45. Toe die Jode die groot opkoms sien, is hulle met afguns vervul en het hulle telkens Paulus se woorde teëgespreek en hom beledig.

46. Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie,

47. want so lui die Here se opdrag aan ons:“Ek het U gegee as 'n lig vir die nasies,sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.”

48. Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.

49. Die woord van die Here het dwarsdeur die hele streek versprei.

50. Maar die Jode het vooraanstaande godvresende vroue en toonaangewende burgers van die stad teen Paulus en Barnabas opgesweep. Hulle is vervolg en uit die streek verdrywe.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 13