Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 11:15-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. “Skaars het ek begin praat, of die Heilige Gees kom op hulle net soos op ons in die begin.

16. Toe dink ek aan die woorde wat die Here gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’

17. Hulle het net soos ons in die Here Jesus Christus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?”

18. Toe die gelowiges dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.”

19. Deur die vervolging wat na Stefanus se dood ontstaan het, is die gelowiges uitmekaar gejaag. Party van hulle het na Fenisië, Siprus en Antiogië toe gegaan, maar hulle het die woord aan niemand anders as net aan Jode verkondig nie.

20. Onder die vlugtelinge was daar sekere mense wat van Siprus en Sirene afkomstig was en wat in Antiogië gekom en daar ook aan die Griekssprekendes die evangelie dat Jesus die Here is, verkondig het.

21. Die Here het die gelowiges gehelp, sodat daar baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het.

22. Die berig hieroor het die gemeente in Jerusalem bereik, en hulle het vir Barnabas na Antiogië toe gestuur.

23. Toe hy daar kom, was hy bly om te sien hoe God in sy genade onder hulle gewerk het, en hy het hulle almal aangespoor om met hart en siel aan die Here getrou te bly.

24. Barnabas was 'n goeie man, vol van die Heilige Gees en met 'n vaste geloof.'n Aansienlike groep mense is tot geloof in die Here gebring,

25. en Barnabas is na Tarsus toe om vir Saulus te gaan soek.

26. Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en hulle twee het 'n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.

27. In dié tyd het daar profete van Jerusalem af na Antiogië toe gekom.

28. Een van hulle, met die naam Agabus, is deur die Gees gelei om te voorspel dat 'n groot hongersnood die hele wêreld sou tref. Dit het dan ook in die tyd van keiser Claudius gebeur.

29. Die gelowiges het toe besluit dat elkeen na sy vermoë sou bydra tot 'n hulpfonds wat vir hulle medegelowiges wat in Judea woon, gestuur sou word.

30. Hulle het dit gedoen en die geld met Barnabas en Saulus aan die ouderlinge in Jerusalem gestuur.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 11