hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Petrus 3 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die wederkoms van die Here en die oordeelsdag

1. Geliefdes, dit is al die tweede brief wat ek aan julle skrywe. In albei het ek geprobeer om julle weer helder te laat dink deur julle te herinner aan

2. die woorde wat vroeër deur die heilige profete verkondig is, asook aan die gebod van die Here en Verlosser wat deur julle apostels aan julle oorgedra is.

3. Veral moet julle weet dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die spot dryf en wie se lewe net deur hulle eie begeertes beheers word. Hulle sal spot

4. en sê: “En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms? Ons vaders is al dood, en tog bly alles nog net soos dit was van die begin van die skepping af.”

5. Hiermee vergeet hulle moedswillig dat daar lank gelede 'n hemel en 'n aarde was wat deur die woord van God uit water en deur water ontstaan het.

6. En dit is ook deur water dat die wêreld van daardie tyd oorstroom is en vergaan het.

7. Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word.

8. Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

9. Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.

10. Maar die dag van die Here sal so onverwags soos 'n dief kom. En op dié dag sal die hemel met 'n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.

11. Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe.

12. Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor, die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt.

13. Maar ons leef in die verwagting van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.

14. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe.

15. En beskou die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word. So het ons geliefde broer Paulus immers ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskrywe.

16. Hy skryf dit ook in al sy briewe waarin hy oor hierdie saak handel. Daar is dinge in sy briewe wat moeilik is om te verstaan. Oningeligte en onstandvastige mense gee daaraan 'n verkeerde uitleg, soos hulle trouens ook doen met die res van die Skrif, en dit tot hulle eie ondergang.

17. Geliefdes, julle weet dit nou vooruit. Wees dus op julle hoede dat julle nie meegesleep word deur die dwaling van beginsellose mense en so van julle eie standvastigheid beroof word nie.

18. Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en tot in ewigheid! Amen.