Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 12:15-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Ek sou graag alles wil gee vir julle lewe, ja, ook myself. As ek julle soveel meer liefhet as wat die ander julle het, het julle my dan minder lief as vir hulle?

16. Goed, ek was dus nie vir julle 'n oorlas nie. Maar julle kan dink ek was slim en ek het julle uitoorlê.

17. Het ek myself dan miskien ten koste van julle geldelik bevoordeel deur een van die mense wat ek na julle toe gestuur het?

18. Ek het vir Titus gevra om na julle toe te gaan en die ander broer saamgestuur. Het Titus homself dan geldelik bevoordeel ten koste van julle? Handel hy en ek nie in dieselfde gees nie, en loop ons nie in dieselfde spore nie?

19. Julle dink seker lankal dat ons ons by julle probeer verdedig? Nee, ons praat in verantwoordelikheid aan God en in verbondenheid met Christus. Alles wat ons doen, geliefdes, is in belang van julle geestelike opbou.

20. Ek is bang dat, wanneer ek kom, ek julle miskien nie sal vind soos ek dit graag wil hê nie, en dat julle my ook nie sal vind soos julle dit graag wil hê nie. Ek is bang vir twis, naywer, onbeheerstheid, selfsug, kwaadpratery, nuusdraery, verwaandheid en wanordelikheid.

21. Ek is ook bang dat wanneer ek weer kom, my God my by julle in verleentheid sal bring en dat ek sal moet treur oor baie van julle wat geruime tyd al 'n sondige lewe lei en wat oor hulle onreinheid, ontug en losbandigheid nie tot berouvolle inkeer gekom het nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 12