Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 11:3-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang.

4. Ek sê dit omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand 'n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik 'n ander gees en 'n ander evangelie aan as dié wat julle van ons ontvang het.

5. Ek reken dat ek niks agterstaan by julle danige apostels nie.

6. Al is ons miskien nie sulke gladde sprekers nie, in die kennis staan ons nie agter nie. Dit het ons julle tog by elke geleentheid en in alle opsigte laat sien.

7. Sonder vergoeding het ek die evangelie van God aan julle verkondig. Ek het my verneder sodat julle opgehef kon word. Was dit miskien verkeerd van my?

8. Om julle te bedien, het ek van ander gemeentes vergoeding aangeneem en hulle as 't ware so beroof.

9. Toe ek by julle was en geld kortgekom het, het ek niemand lastig geval nie, want die broers wat van Masedonië af gekom het, het ruim in my behoeftes voorsien. Ek het gesorg en sal ook verder sorg dat ek in geen opsig vir julle 'n las word nie.

10. Hierop is ek trots, en so seker as die waarheid van Christus in my is, sal niemand in die hele Agaje my dit ontneem nie.

11. Waarom nie? Omdat ek julle nie liefhet nie? God weet ek het julle lief.

12. Soos ek nou maak, sal ek voortgaan om te maak. Daarmee sal ek vir dié mense wat 'n aanleiding soek om te roem dat hulle net sulke apostels soos ons is, elke aanleiding daartoe ontneem.

13. Sulke mense is vals apostels; hulle gaan oneerlik te werk deur voor te gee dat hulle apostels van Christus is.

14. En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as 'n engel van die lig.

15. Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie. Aan die einde sal hulle kry wat hulle vir hulle dade verdien.

16. Ek herhaal: Niemand moet dink dat ek 'n dwaas is nie. Of anders, beskou my maar as 'n dwaas en laat my ook 'n bietjie grootpraat.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 11