hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die opstanding van Christus

1. Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan.

2. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.

3. Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;

4. Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.

5. Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf,

6. en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe.

7. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels.

8. Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.

9. Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om 'n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het.

10. Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.

11. In elk geval, of dit ek is of hulle — dit is wat ons verkondig, en dit is wat julle geglo het.

Die opstanding van die dooies

12. As ons dan verkondig dat Christus uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie?

13. As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie.

14. En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.

15. Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie.

16. As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie.

17. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes.

18. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore.

19. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

20. Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het.

21. Aangesien die dood deur 'n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur 'n mens gekom.

22. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.

23. Maar daar is 'n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort.

24. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het.

25. Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het.

26. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.

27. Daar staan immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.” Maar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is, is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is.

28. Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles.

29. En nou, as die dooies glad nie opgewek word nie, wat wil die mense bereik wat hulle vir dooies laat doop? Waarom laat hulle hulle nog vir dooies doop?

30. En ons ook, waarom stel ons ons dan van uur tot uur aan lewensgevaar bloot?

31. Elke dag word ek deur die dood bedreig. Ja, broers, dit is waar, net so waar as wat julle my trots is in Christus Jesus, ons Here.

32. As ek hier in Efese as bloot sterflike mens soos teen wilde diere geveg het, wat het ek daarmee bereik? As die dooies nie opgewek word nie,“laat ons eet en drink, want môre sterf ons!”

33. Moet julle nie langer laat mislei nie:“Slegte geselskap bederf goeie sedes.”

34. Kom tot besinning en moenie langer sonde doen nie. Party van julle is sonder kennis van God. Dit sê ek tot julle skande.

Die opstandingsliggaam

35. Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê?

36. Dis 'n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie.

37. En wat jy saai, saai jy nie in die toekomstige gestalte daarvan nie, maar as 'n blote saadkorrel, of dit nou koring is of iets anders.

38. Maar God gee 'n gestalte daaraan, soos Hy bepaal het; aan elke saadsoort gee Hy 'n eie gestalte.

39. Die vleis van lewende wesens is nie alles eenders nie. Daar is verskil tussen die vleis van mense, van diere, van voëls en van visse.

40. Daar is hemelliggame en daar is aardse liggame. Die glans van die hemelliggame is anders as dié van die aardse liggame.

41. Die glans van die son is anders as dié van die maan of dié van die sterre. Ook verskil die een ster se glans van dié van die ander.

42. So is dit ook met die opstanding van die dooies: wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek;

43. wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek.

44. 'n Natuurlike liggaam word gesaai, 'n geestelike liggaam word opgewek. Aangesien daar 'n natuurlike liggaam is, is daar ook 'n geestelike liggaam.

45. So staan daar ook geskrywe: “Die eerste mens, Adam, het 'n lewende wese geword.” Die laaste Adam het die lewendmakende Gees geword.

46. Die geestelike kom nie eerste nie maar die natuurlike, en daarna die geestelike.

47. Die eerste mens is uit die aarde en is stoflik; die tweede mens is uit die hemel.

48. Soos die stoflike mens was, so is ook die stoflike mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.

49. Soos ons die beeld van die stoflike mens was, sal ons ook die beeld van die hemelse wees.

50. Wat ek bedoel, broers, is dit: vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie.

51. Kyk, ek maak 'n geheimenis aan julle bekend: Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word.

52. By die laaste trompet sal dit in 'n oomblik, in 'n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word.

53. Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike.

54. En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word:“Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”

55. “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

56. Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God.

57. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.

58. Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.