hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 1 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Van Paulus, wat deur die wil van God geroep is om 'n apostel van Christus Jesus te wees, en van die broer Sostenes.

2. Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.

3. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Danksegging

4. Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het,

5. want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis.

6. Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig

7. dat dit julle nie aan 'n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus.

8. Dit is Hy wat julle ook end-uit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie.

9. God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Verdeeldheid in die gemeente

10. Ek doen 'n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging.

11. Ek sê dit, my broers, omdat van Chloë se mense my vertel het dat daar onenigheid onder julle is.

12. Daarmee bedoel ek dat een sê: “Ek is vir Paulus;” een: “Ek is vir Apollos;” een: “Ek is vir Sefas;” en een: “Ek is vir Christus.”

13. Is Christus dan in stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig, of is julle in die naam van Paulus gedoop?

14. Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Krispus en Gaius.

15. Niemand kan dus sê dat julle in my naam gedoop is nie.

16. Nee, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie of ek nog iemand gedoop het nie.

17. Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, en dit nie met woorde van menslike wysheid nie, want dan sou die kruis van Christus sy krag verloor.

Christus die krag en die wysheid van God

18. Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.

19. Daar staan tog geskrywe:“Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig,en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.”

20. Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie?

21. Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo.

22. Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid,

23. maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin,

24. maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.

25. Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

26. Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie.

27. En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam,

28. en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak.

29. Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie.

30. Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.

31. Daarom, soos daar geskrywe staan:“Dié wat wil roem,moet in die Here roem.”