hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 3 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die oorsaak van die verdeeldheid

1. Broers, ek kon met julle nie praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie; ek moes praat soos met wêreldse mense, soos met kindertjies in die geloof in Christus.

2. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie. En julle kan dit ook nou nog nie verteer nie,

3. want julle is nog wêreldse mense. Daar kom jaloesie en twis onder julle voor. Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie?

4. As een van julle sê: “Ek is vir Paulus,” en 'n ander: “Ek is vir Apollos,” is julle dan nie nog wêrelds nie?

5. Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het.

6. Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het.

7. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei.

8. Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk.

9. Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God.Julle is ook die gebou van God.

Die gelowiges as die gebou van God

10. Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos 'n goeie bouer die fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou,

11. want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.

12. Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou,

13. elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets.

14. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word;

15. as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is.

16. Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?

17. As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.

18. Niemand moet homself mislei nie. As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld 'n wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik 'n wyse mens kan word,

19. want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan tog geskrywe:“Hy vang die slimmes met hulle eie slinkse planne,”

20. en op 'n ander plek:“Die Here ken die gedagtes van die wyse mense en weet dit beteken niks.”

21. Daarom moet niemand op mense roem nie. Alles behoort aan julle:

22. of dit Paulus of Apollos of Sefas of die wêreld of lewe of dood of hede of toekoms is, alles behoort aan julle,

23. maar julle behoort aan Christus en Christus aan God.