Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 2:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig — ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.

2. Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

3. As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken.

4. Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is 'n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie.

5. Wie sy woord egter gehoorsaam — in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is.

6. Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.

7. Geliefdes, dit is nie 'n nuwe gebod wat ek aan julle voorskrywe nie, maar 'n ou gebod wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die boodskap wat julle gehoor het.

8. Tog is dit ook 'n nuwe gebod wat ek aan julle voorskrywe. Dat dit werklik so is, is te sien in Jesus en ook in julle, want die duisternis is aan die verbygaan, en die ware lig skyn alreeds.

9. As iemand beweer dat hy in die lig is, maar hy haat sy broer, is hy nog steeds in die duisternis.

10. Wie sy broer liefhet, bly in die lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie.

11. Maar wie sy broer haat, is in die duisternis en lewe in die duisternis en weet nie waar hy gaan uitkom nie, omdat die duisternis hom blind gemaak het.

12. Ek skrywe vir julle, liewe kinders, omdat julle sondes vergewe is in die Naam van Jesus.

13. Ek skrywe vir julle, vaders, omdat julle Jesus ken wat van die begin af daar was.Ek skrywe vir julle, jongmense, omdat julle die Bose oorwin het.

14. Ek het vir julle geskrywe, kinders, omdat julle die Vader ken.Ek het vir julle geskrywe, vaders, omdat julle Jesus ken wat van die begin af daar was.Ek het vir julle geskrywe, jongmense, omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het.

15. Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie.

16. Die wêreldse dinge — alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit — kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 2