Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 15:10-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. En die manne van Juda vra: Waarom het julle teen ons opgetrek? En hulle sê: Ons het opgetrek om Simson te bind, om aan hom te doen soos hy aan ons gedoen het.

11. Daarop trek drieduisend man uit Juda af na die rotskloof van Etam en vra vir Simson: Weet jy nie dat die Filistyne oor ons heers nie, en wat het jy ons nou aangedoen? En hy sê aan hulle: Soos hulle aan my gedoen het, so het ek aan hulle gedoen.

12. Toe sê hulle vir hom: Ons het afgekom om jou te bind, om jou oor te gee in die hand van die Filistyne. En Simson sê aan hulle: Sweer vir my dat julle nie self op my sal aanval nie.

13. En hulle antwoord hom: Nee, ons sal jou net vasbind en oorgee in hulle hand, maar doodmaak sal ons jou stellig nie. Daarop bind hulle hom vas met twee nuwe toue en bring hom op uit die rots.

14. Toe hy tot by Legi kom, juig die Filistyne hom tegemoet; maar die Gees van die Here het oor hom vaardig geword, en die toue wat aan sy arms was, het geword soos linnedrade wat in die vuur brand, en sy bande het versmelt van sy hande af.

15. En hy het ’n vars eselskakebeen gevind en sy hand uitgesteek en dit geneem en daar duisend man mee verslaan.

16. En Simson het gesê: Met ’n eselskakebeen het ek een klomp, twee klompe, met ’n eselskakebeen het ek duisend man verslaan.

17. En toe hy klaar gespreek het, gooi hy die kakebeen uit sy hand en noem dié plek Kakebeenshoogte.

18. Daarop kry hy baie dors en roep die Here aan en sê: U het deur die hand van u kneg hierdie groot verlossing gegee, en moet ek nou van dors sterwe en in die hand van die onbesnedenes val?

19. Toe kloof God die holte wat by Legi is, en daar kom water uit; en hy het gedrink, en sy gees het teruggekom, en hy het weer opgelewe. Daarom noem hulle dit Roepersfontein, wat vandag nog by Legi is.

20. En hy het Israel gerig in die dae van die Filistyne, twintig jaar lank.

Lees volledige hoofstuk Rigters 15