Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 9:5-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. En hulle het die pasga gehou op die veertiende dag van die eerste maand, teen die aand, in die woestyn Sinai; net soos die Here Moses beveel het, so het die kinders van Israel gedoen.

6. En daar was manne wat deur die lyk van ’n mens onrein geword het en op dieselfde dag die pasga nie kon hou nie. Daarom het hulle nader gekom voor Moses en Aäron op dieselfde dag,

7. en dié manne het vir hom gesê: Ons is onrein deur die lyk van ’n mens; waarom moet ons te kort gedoen word, dat ons die offer van die Here nie op die bepaalde tyd onder die kinders van Israel sou bring nie?

8. En Moses het vir hulle gesê: Bly staan, dat ek kan hoor wat die Here julle sal beveel.

9. Toe het die Here met Moses gespreek en gesê:

10. Spreek met die kinders van Israel en sê: As iemand van julle of van julle geslagte deur ’n lyk onrein word of op ’n ver reis is, moet hy tog die pasga vir die Here hou.

11. In die tweede maand, op die veertiende dag, teen die aand, moet hulle dit hou; met ongesuurde brode en bitter kruie moet hulle dit eet.

12. Hulle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe of ’n been daaraan breek nie; volgens die hele insetting van die pasga moet hulle dit hou.

13. Maar die man wat rein is en nie op reis is nie en nalaat om die pasga te hou, dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word; want hy het die offer van die Here nie op die bepaalde tyd gebring nie. Dié man moet sy sonde dra.

14. En as ’n vreemdeling by julle vertoef en die pasga vir die Here hou, moet hy dit hou volgens die insetting van die pasga en volgens die verordening daarvan. Dit moet een insetting vir julle wees, vir die vreemdeling sowel as die kind van die land.

15. EN op die dag toe hulle die tabernakel opgerig het, het die wolk die tabernakel van die tent van die Getuienis oordek, en in die aand was dit oor die tabernakel soos ’n gedaante van vuur, tot die môre toe.

16. So was dit altyddeur: die wolk het dit oordek, en snags ’n gedaante van vuur.

Lees volledige hoofstuk Númeri 9