Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 11:2-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die Here gebid; en die vuur het doodgegaan.

3. Daarom het hulle die plek Tabéra genoem, omdat die vuur van die Here onder hulle gebrand het.

4. EN die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet?

5. Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel.

6. Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë.

7. Die manna was soos koljandersaad, en dit het gelyk na balsemgom.

8. Die volk het rondgeloop en dit versamel en in handmeule gemaal of in vysels gestamp, en hulle het dit in potte gekook en daarvan roosterkoeke gemaak. En die smaak daarvan was soos die smaak van oliekoeke.

9. En as die dou snags op die laer val, het die manna ook daarop geval.

10. Toe het Moses die volk, volgens hulle geslagte, elkeen by die deur van sy tent hoor ween; en die toorn van die Here het grootliks ontvlam; ook was dit verkeerd in die oë van Moses.

11. En Moses sê aan die Here: Waarom het U u kneg kwaad aangedoen en waarom het ek geen genade in u oë gevind nie, dat U die las van hierdie hele volk op my lê?

12. Het ék hierdie hele volk dan ontvang? Of het ék hulle gebaar, dat U vir my sê: Dra hulle aan jou bors soos ’n oppasser die suigling dra, na die land wat U aan hulle vaders met ’n eed beloof het?

13. Waarvandaan moet ek vleis kry om aan al hierdie volk te gee? Want hulle ween by my en sê: Gee vir ons vleis, dat ons kan eet.

14. Ek alleen kan hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar.

15. En as U so met my wil handel, slaan my dan maar liewer dood as ek genade in u oë gevind het, en laat ek my ongeluk nie aansien nie.

16. Toe sê die Here aan Moses: Bring vir My sewentig manne uit die oudstes van Israel bymekaar, van wie jy weet dat hulle oudstes van die volk en sy opsigters is, en bring hulle by die tent van samekoms, dat hulle daar by jou kan staan.

17. Dan sal Ek neerdaal en daar met jou spreek; en van die Gees wat op jou is, sal Ek afsonder en op hulle lê; en hulle sal jou help om die las van die volk te dra, sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie.

18. En aan die volk moet jy sê: Heilig julle teen môre; dan sal julle vleis eet. Want julle het voor die ore van die Here geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? want dit was vir ons goed in Egipte. Daarom sal die Here vir julle vleis gee, en julle sal eet.

19. Julle sal nie een dag of twee dae eet nie, of vyf dae of tien dae of twintig dae nie —

20. ’n hele maand lank, totdat dit uit julle neus uitkom en julle daarvan walg; omdat julle die Here wat in julle midde is, verwerp en voor sy aangesig gehuil en gesê het: Waarom het ons tog uit Egipte uitgetrek?

21. Toe sê Moses: Seshonderdduisend te voet is die volk onder wie ek verkeer; en U het gesê: Ek sal aan hulle vleis gee, en hulle sal ’n hele maand lank eet!

22. Sal daar vir hulle kleinvee en beeste geslag word, sodat daar vir hulle genoeg sal wees? Of sal al die visse van die see vir hulle versamel word, sodat daar vir hulle genoeg is?

Lees volledige hoofstuk Númeri 11