Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemía 9:22-37 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. En U het aan hulle koninkryke en volke gegee en dié volgens bepaalde grense verdeel; en hulle het die land van Sihon, ja, die land van die koning van Hesbon, en die land van Og, die koning van Basan, in besit geneem.

23. En U het hulle kinders vermenigvuldig soos die sterre aan die hemel en hulle in die land ingebring waarvan U aan hulle vaders gesê het dat hulle sou ingaan om dit in besit te neem.

24. En die kinders het ingegaan en die land in besit geneem, en U het die inwoners van die land, die Kanaäniete, voor hulle onderwerp en dié in hulle hand gegee, hulle konings sowel as die volke van die land, om met hulle te handel soos hulle dit goedvind.

25. En hulle het versterkte stede en ’n vet land ingeneem, en huise in besit geneem vol allerhande goeie dinge, uitgekapte putte, wingerde en olyfbome en vrugtebome in menigte, en hulle het geëet en versadig en vet geword en weelderig gelewe deur u grote goedheid.

26. Maar hulle het wederstrewig en opstandig geword teen U en u wet agter hulle rug gewerp; en u profete wat hulle gewaarsku het, om hulle na U terug te bring, het hulle gedood en groot, afskuwelike dinge gedoen.

27. Daarom het U hulle oorgegee in die hand van hulle teëstanders, dat dié hulle in benoudheid sou bring. Maar wanneer hulle in die tyd van hulle benoudheid U aangeroep het, het Ú uit die hemel gehoor en na u grote barmhartigheid aan hulle verlossers gegee, dat dié hulle uit die hand van hul teëstanders kon verlos.

28. Maar sodra hulle rus gehad het, het hulle weer kwaad gedoen voor u aangesig, en U het hulle oorgelewer in die hand van hul vyande, dat dié oor hulle sou heers; as hulle U dan weer aanroep, het U uit die hemel gehoor en hulle na u barmhartigheid baiekeer gered.

29. En U het hulle gewaarsku om hulle na u wet terug te bring, maar hulle het vermetel gehandel en nie geluister na u gebooie nie, en teen u verordeninge, daarteen het hulle gesondig, waarvan geld dat ’n mens dit moet doen, dat hy daardeur kan lewe; en hulle het ’n wederstrewige skouer gegee en hulle nek verhard en nie geluister nie.

30. En U was baie jare lankmoedig oor hulle, en U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete; maar hulle het geen gehoor gegee nie. Daarom het U hulle oorgegee in die hand van die volke van die lande.

31. Maar in u grote barmhartigheid het U hulle nie volkome vernietig en hulle nie verlaat nie, want U is ’n genadige en barmhartige God.

32. Onse God, groot, magtige en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou, laat dan nou al die moeilikheid nie gering wees voor u aangesig nie wat ons, ons konings, ons owerstes en ons priesters en ons profete en ons vaders en u hele volk oorgekom het van die dae van die konings van Assur af tot vandag toe.

33. Maar U is regverdig in alles wat oor ons gekom het; want U het getrou gehandel, maar ons het goddeloos gehandel;

34. en ons konings, ons owerstes, ons priesters en ons vaders het u wet nie volbring en na u gebooie en u getuienisse waarmee U hulle gewaarsku het, nie geluister nie.

35. En hulle het in hul koninkryk en by u groot seën wat U hulle geskenk het, en in die wye en vet land wat U aan hulle oorgegee het, U nie gedien nie en hulle nie van hul verkeerde handelinge bekeer nie.

36. Ons is vandag slawe, en die land wat U aan ons vaders gegee het om die vrug en die volle seën daarvan te geniet — daarin is ons slawe.

37. En dit vermeerder sy opbrings vir die konings wat U oor ons gestel het om ons sondes ontwil, en hulle heers oor ons liggame en oor ons vee na hulle willekeur, en ons is in ’n groot benoudheid.

Lees volledige hoofstuk Nehemía 9