Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemía 2:1-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN in die maand Nisan van die twintigste jaar van koning Artasásta toe daar wyn voor hom was, het ek die wyn opgehef en aan die koning gegee; en omdat ek nooit voor hom bedroef was nie,

2. het die koning my gevra: Waarom is jou aangesig so bedroef; jy is tog nie siek nie? Dit is niks anders as hartseer nie. En ek het baie bevrees geword

3. en aan die koning gesê: Mag die koning ewig lewe! Waarom sou my aangesig nie bedroef wees nie, terwyl tog die stad waar my vaders begrawe is, woes lê en sy poorte deur vuur verteer is?

4. Daarop vra die koning my: Wat is dan jou begeerte? En ek het tot die God van die hemel gebid

5. en aan die koning gesê: As die koning dit goedvind en as u dienaar welgevallig is in u oë, stuur my dan na Juda, na die stad waar my vaders begrawe lê, dat ek dit kan opbou.

6. Toe vra die koning my, terwyl die koningin langs hom sit: Hoe lank sal jou reis duur, en wanneer sal jy terugkom? En die koning het dit goedgevind om my te stuur. En ek het hom ’n bepaalde tyd aangegee

7. en aan die koning gesê: As die koning dit goedvind, kan hulle vir my briewe saamgee aan die goewerneurs wes van die Eufraat, dat hulle my laat deurtrek totdat ek in Juda kom;

8. en ’n brief aan Asaf, opsigter van die park van die koning, dat hy aan my hout lewer om die poorte van die vesting wat by die tempel behoort, met balke uit te lê, en vir die muur van die stad en vir die huis waar ek sal intrek. En die koning het my dit toegestaan volgens die goeie hand van my God oor my.

9. En ek het by die goewerneurs gekom wes van die Eufraat en die briewe van die koning aan hulle gegee. Ook leërowerstes en perderuiters het die koning met my saamgestuur.

10. Maar toe Sanbállat, die Horoniet, en Tobía, die Ammonitiese kneg, hoor dat iemand gekom het om vir die kinders van Israel iets goeds te soek, was hulle daaroor erg ontstemd.

11. En toe ek in Jerusalem kom en daar drie dae was,

12. het ek my in die nag gereedgemaak, ek en enkele manne saam met my; maar ek het aan geen mens meegedeel wat my God in my hart gegee het om vir Jerusalem te doen nie; daar was ook geen dier by my nie, behalwe die dier waar ek op gery het.

13. En ek het in die nag deur die Dalpoort uitgery en na die kant van die Slangfontein en na die Aspoort toe; en ek het die mure van Jerusalem besigtig wat stukkend lê, en sy poorte wat deur vuur verteer was.

14. En ek het verder gegaan na die Fonteinpoort en na die Koningsvywer. Maar daar was geen plek vir die dier om onder my verder te gaan nie.

Lees volledige hoofstuk Nehemía 2