Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 10:7-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Julle mag ook uit die ingang van die tent van samekoms nie uitgaan nie, dat julle nie sterwe nie; want die salfolie van die Here is op julle. En hulle het gehandel ooreenkomstig die woord van Moses.

8. En die Here het met Aäron gespreek en gesê:

9. Moenie wyn of sterk drank drink nie, jy of jou seuns saam met jou as julle in die tent van samekoms ingaan, dat julle nie sterwe nie; ’n ewige insetting is dit vir julle geslagte;

10. en julle moet onderskeid maak tussen wat heilig en wat onheilig, en tussen wat onrein en wat rein is;

11. en julle moet die kinders van Israel leer al die insettinge wat die Here deur die diens van Moses aan hulle verkondig het.

12. En Moses het met Aäron gespreek en met sy seuns Eleásar en Ítamar wat oorgebly het: Neem die spysoffer wat van die vuuroffers van die Here oorgebly het, en eet dit as ongesuurde koeke langs die altaar; want dit is hoogheilig.

13. Daarom moet julle dit op ’n heilige plek eet, want dit is wat aan jou en jou seuns toekom uit die vuuroffers van die Here; want so is aan my bevel gegee.

14. Ook die beweegbors en die hefboud moet julle op ’n rein plek eet, jy en jou seuns en jou dogters saam met jou; want as deel wat aan jou en jou seuns toekom, is hulle uit die dankoffers van die kinders van Israel gegee.

15. Die hefboud en die beweegbors moet hulle saam met die vuuroffers van die stukke vet bring om as beweegoffer voor die aangesig van die Here te beweeg; en dit sal vir jou en jou seuns saam met jou ’n deel wees wat aan julle vir ewig toekom soos die Here beveel het.

16. En Moses het rondgesoek na die sondofferbok, maar dit was verbrand! Daarom was hy baie kwaad vir Eleásar en Ítamar, die seuns van Aäron wat oorgebly het; en hy het gesê:

17. Waarom het julle die sondoffer nie op ’n heilige plek geëet nie? Want dit is hoogheilig, en Hy het dit aan julle gegee om die ongeregtigheid van die vergadering weg te neem, om versoening vir hulle te doen voor die aangesig van die Here.

18. Kyk, die bloed daarvan is nie binne in die heiligdom gebring nie. Julle moes dit sekerlik in die heiligdom geëet het soos ek beveel het.

19. Toe sê Aäron vir Moses: Kyk, hulle het vandag hul sondoffer en hul brandoffer voor die aangesig van die Here gebring, en sulke dinge het my oorgekom; as ek vandag sondoffer geëet het, sou dit goed gewees het in die oë van die Here?

20. Toe Moses dit hoor, was dit goed in sy oë.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 10