Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 24:1-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DAARNA het Josua al die stamme van Israel byeen laat kom in Sigem, en hy het die oudstes van Israel en sy hoofde en sy regters en sy opsigters laat roep, en hulle het hul voor die aangesig van God gestel.

2. Toe sê Josua aan die hele volk: So sê die Here, die God van Israel: Oorkant die Eufraat het julle vaders van oudsher gewoon — Tera, die vader van Abraham en die vader van Nahor, en hulle het ander gode gedien.

3. Maar Ek het julle vader Abraham van oorkant die Eufraat af geneem en hom deur die hele land Kanaän laat trek en sy nageslag vermeerder en Isak aan hom gegee;

4. en aan Isak het Ek Jakob en Esau gegee, en aan Esau het Ek die gebergte Seïr gegee, om dit in besit te neem; maar Jakob en sy kinders het na Egipte afgetrek.

5. Toe het Ek Moses en Aäron gestuur en Egipte getref soos Ek dit daar gedoen het, en daarna het Ek julle uitgelei.

6. Toe Ek julle vaders uit Egipte uitgelei het, het julle by die see gekom; maar die Egiptenaars het julle vaders agternagejaag met strydwaens en perderuiters na die Skelfsee toe;

7. maar hulle het die Here aangeroep, en Hy het ’n duisternis gestel tussen julle en die Egiptenaars en die see oor hulle laat kom, sodat dit hulle oordek het, en julle eie oë het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het. Daarna het julle baie dae in die woestyn gebly.

8. Daarop het Ek julle gebring in die land van die Amoriete wat oos van die Jordaan gewoon het, en hulle het teen julle geveg; maar Ek het hulle in julle hand gegee, sodat julle hul land in besit geneem het, en Ek het hulle voor julle uit verdelg.

9. Toe het Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab, hom klaargemaak en teen Israel geveg; en hy het gestuur om Bíleam, die seun van Beor, te roep om julle te vervloek;

10. maar Ek wou nie na Bíleam luister nie, sodat hy julle net geseën het; en Ek het julle uit sy hand gered.

11. Toe julle die Jordaan deurgetrek en by Jérigo gekom het, het die burgers van Jérigo, die Amoriete en Feresiete en Kanaäniete en Hetiete en Girgasiete, die Hewiete en Jebusiete teen julle geveg; maar Ek het hulle in julle hand gegee

12. en perdebye voor julle uit gestuur, wat hulle voor julle uit verdryf het, — die twee konings van die Amoriete — nie deur jou swaard en nie deur jou boog nie.

13. So het Ek julle dan ’n land gegee waar julle nie aan gearbei en stede wat julle nie gebou het nie, dat julle daarin kan woon; wingerde en olyfbome wat julle nie geplant het nie, daar eet julle van.

14. Vrees dan nou die Here en dien Hom in opregtheid en waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die Here.

15. Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die Here dien.

16. Toe antwoord die volk en sê: Dit is ver van ons, dat ons die Here sou verlaat om ander gode te dien;

Lees volledige hoofstuk Josua 24