Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 10:14-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. En my hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na ’n voëlnes, en ék het die hele aarde bymekaargeskraap soos ’n mens eiers bymekaarskraap wat verlaat is; en daar was niemand wat ’n vlerk verroer of ’n bek oopgemaak of gepiep het nie.

15. Kan die byl hom beroem teen die wat daarmee kap, of die saag spog teen hom wat dit trek? Asof ’n staf húlle swaai wat hom ophef, asof ’n stok hóm ophef wat nie hout is nie!

16. Daarom sal die Here Here van die leërskare onder sy vettes ’n maerte stuur; en onder sy heerlikheid sal Hy ’n brand laat uitslaan soos die brand van vuur.

17. En die Lig van Israel sal ’n vuur wees, en sy Heilige ’n vlam; en dit sal sy distels en sy dorings verbrand en verteer op een dag.

18. Ook sal Hy die heerlikheid van sy bos en van sy vrugteboord verteer, van die siel af tot die vlees toe, sodat dit is soos wanneer ’n kranke wegkwyn.

19. En die oorblyfsel van die bome van sy bos sal min in getal wees, en ’n seuntjie sal hulle kan opskrywe.

20. En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer voortgaan om te steun op hom wat hulle slaan nie; maar hulle sal steun op die Here, die Heilige van Israel, in opregtheid.

21. Die oorblyfsel sal terugkom, die oorblyfsel van Jakob na die sterke God toe.

22. Want al was jou volk, o Israel, soos die sand van die see, net ’n oorblyfsel van hulle sal terugkom; die verdelging is vas besluit en vloei oor van geregtigheid.

23. Want ’n verdelging wat vas besluit is, sal die Here Here van die leërskare voltrek in die midde van die hele aarde.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 10