Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 10:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. WEE hulle wat heillose insettinge tot wet maak, en die skrywers wat moeite ywerig voorskrywe,

2. om die armes van die gereg weg te stoot en om die ellendiges onder my volk van die reg te beroof, sodat die weduwees hulle buit kan word en hulle die wese kan plunder.

3. Maar wat sal julle doen op die dag van besoeking en by die verwoesting wat van ver af sal kom? Na wie sal julle vlug om hulp, en waar julle rykdom wegbêre?

4. Hulle kan net maar buig soos geboeides en val soos diegene wat gedood is. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.

5. WEE Assur! die roede van my toorn en ’n stok is hy — in hulle hand is my grimmigheid!

6. Ek sal hom stuur teen ’n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ’n vertrapping te maak soos modder van die strate.

7. Maar hý bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie.

8. Want hy sê: Is my vorste nie almal saam konings nie?

9. Het dit met Kalno nie gegaan soos met Kárkemis, met Hamat soos met Arpad, met Samaría soos met Damaskus nie?

10. Soos my hand die koninkryke van die afgode bereik het, alhoewel hulle gesnede beelde meer was as dié van Jerusalem en Samaría,

11. sou ek nie, soos ek aan Samaría en sy afgode gedoen het, net so aan Jerusalem en sy afgode kan doen nie?

12. Maar as die Here al sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië se koning en oor die gepraal van sy hoë oë.

13. Want hy sê: Deur die krag van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid, want ek is verstandig; en die grense van die volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos ’n maghebber neergewerp.

14. En my hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na ’n voëlnes, en ék het die hele aarde bymekaargeskraap soos ’n mens eiers bymekaarskraap wat verlaat is; en daar was niemand wat ’n vlerk verroer of ’n bek oopgemaak of gepiep het nie.

15. Kan die byl hom beroem teen die wat daarmee kap, of die saag spog teen hom wat dit trek? Asof ’n staf húlle swaai wat hom ophef, asof ’n stok hóm ophef wat nie hout is nie!

Lees volledige hoofstuk Jesaja 10