Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 49:3-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. Huil, o Hesbon, want Ai is verwoes; skreeu, o dogters van Rabba! Omgord julle met rouklere, hef ’n rouklag aan en swerf rond tussen die klipmure; want Milkom sal in ballingskap gaan, sy priesters en sy vorste almal saam.

4. Wat roem jy op die dale, op die oorvloed van jou dal, o afkerige dogter, wat op jou voorrade vertrou en sê: Wie sal aan my kom?

5. Kyk, Ek bring vrees oor jou vir almal wat rondom jou is, spreek die Here Here van die leërskare; en julle sal weggedryf word, elkeen reg voor hom uit, sonder dat iemand die swerwelinge vergader.

6. Maar daarna sal Ek die lot van die kinders van Ammon verander, spreek die Here.

7. OOR Edom. So sê die Here van die leërskare: Is daar geen wysheid meer in Teman nie? Ontbreek raad by die verstandiges? Is hulle wysheid uitgeput?

8. Vlug, draai om, skuil diep weg, o inwoners van Dedan! Want Ek het die ondergang van Esau oor hom gebring, die tyd dat Ek oor hom besoeking doen.

9. As daar druiwesnyers na jou kom, sal hulle geen na-oes laat oorbly nie; of diewe in die nag — hulle sal verniel totdat hulle genoeg het.

10. Want Ek het Esau ontbloot, Ek het sy skuilplekke oopgemaak, sodat hy hom nie kan wegsteek nie; sy geslag is verwoes, ook sy broers en sy bure, en hy is daar nie.

11. Laat jou wese agterbly, en Ék sal hulle in die lewe hou, en laat jou weduwees op My vertrou.

12. Want so sê die Here: Kyk, hulle wat eintlik die beker nie moes drink nie, moet sekerlik drink; en jy, sou jy heeltemal ongestraf bly? Jy sal nie ongestraf bly nie, maar sekerlik drink.

13. Want Ek het by Myself gesweer, spreek die Here, dat Bosra ’n voorwerp van verbasing, van smaad, ’n woestheid en ’n vervloeking sal word; en al sy stede sal ewige puinhope wees.

14. Ek het ’n tyding van die Here gehoor, en ’n boodskapper is gestuur onder die nasies om te sê: Versamel julle en kom aan teen hom en maak julle gereed vir die oorlog.

15. Want kyk, Ek het jou klein gemaak onder die nasies, verag onder die mense.

16. Jou vreeslikheid het jou bedrieg, die vermetelheid van jou hart, o jy wat woon in die rotsklowe, jy wat die top van die heuwel in besit hou! Al maak jy jou nes so hoog soos die arend — daarvandaan sal Ek jou neerwerp, spreek die Here.

17. So sal Edom dan ’n voorwerp van verbasing word; elkeen wat by hom verbytrek, sal hom verbaas en spot oor al sy plae.

18. Soos die omkering van Sodom en Gomorra met hulle bure, sê die Here, sal daar niemand woon en geen mensekind daar vertoef nie.

19. Kyk, soos ’n leeu uit die pronkbosse van die Jordaan sal daar een optrek teen die vaste woning; want in ’n oomblik sal Ek hulle daaruit wegjaag; en hom wat uitgekies is, sal Ek daaroor aanstel. Want wie is soos Ek? En wie sal My dagvaar? En wie is tog ’n herder wat voor my aangesig kan standhou?

20. Daarom, hoor die raadsbesluit van die Here wat Hy teen Edom geneem en sy planne wat Hy teen die inwoners van Teman beraam het: Waarlik, die kleinstes van die kudde sal weggesleep word; waarlik, hulle weiveld sal oor hulle verslae wees.

21. Van die geluid van hulle val bewe die aarde; daar is ’n geskreeu — by die Skelfsee word die geluid daarvan gehoor.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 49