Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 34:8-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. DIE woord wat van die Here tot Jeremia gekom het nadat koning Sedekía ’n verbond gesluit het met die hele volk wat in Jerusalem was, om vir hulle ’n vrylating uit te roep,

9. dat elkeen sy slaaf en sy slavin, ’n Hebreeuse man of Hebreeuse vrou, vry moet laat weggaan, sodat niemand ’n Jood, sy broer, vir hom diensbaar sou maak nie.

10. En al die vorste en die hele volk wat die verbond aangegaan het, het gehoor gegee dat elkeen sy slaaf en sy slavin vry sou laat weggaan, sodat dié nie meer aan hulle diensbaar sou wees nie; ja, hulle het gehoor gegee en hulle laat weggaan.

11. Maar daarna het hulle weer die slawe en slavinne laat terugkom wat hulle vry laat weggaan het, en hulle het dié as slawe en slavinne onderdanig gemaak.

12. Toe het van die Here die woord van die Here tot Jeremia gekom en gesê:

13. So spreek die Here, die God van Israel: Ek het ’n verbond gesluit met julle vaders op die dag toe Ek hulle uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het, met die woorde:

14. Aan die einde van sewe jaar moet julle elkeen sy broer, die Hebreër wat aan jou verkoop is en jou ses jaar lank gedien het, laat weggaan; jy moet hom as vryman van jou af laat weggaan. Maar julle vaders het na My nie geluister en geen gehoor gegee nie.

15. En júlle het vandag tot inkeer gekom en gedoen wat reg is in my oë, om ’n vrylating uit te roep, elkeen vir sy naaste; en julle het ’n verbond gesluit voor my aangesig, in die huis waaroor my Naam uitgeroep is.

16. Maar julle het weer gedraai en my Naam ontheilig, en elkeen het sy slaaf en sy slavin wat julle vry laat weggaan het volgens hulle begeerte, laat terugkom; en julle het hulle onderdanig gemaak om julle slawe en slavinne te wees.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 34