Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 26:12-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Maar Jeremia het al die vorste en die hele volk toegespreek en gesê: Die Here het my gestuur om teen hierdie huis en teen hierdie stad te profeteer al die woorde wat julle gehoor het.

13. Maak dan nou julle weë en julle handelinge goed, en luister na die stem van die Here julle God; dan sal dit die Here berou oor die onheil wat Hy teen julle gespreek het.

14. Maar ek, kyk, ek is in julle hand; maak met my soos dit goed en reg is in julle oë.

15. Maar weet verseker as julle my doodmaak dat julle onskuldige bloed bring op julleself en op hierdie stad en op sy inwoners; want die Here het my waarlik na julle gestuur om al hierdie woorde voor julle ore te spreek.

16. Toe sê die vorste en die hele volk aan die priesters en die profete: Hierdie man verdien nie die dood nie, want hy het met ons gespreek in die Naam van die Here onse God.

17. Ook het daar manne opgestaan uit die oudstes van die land, en hulle het die hele vergadering van die volk toegespreek en gesê:

18. Miga, die Morastiet, het as profeet opgetree in die dae van Hiskía, koning van Juda, en met die hele volk van Juda gespreek en gesê: So spreek die Here van die leërskare: Sion sal soos ’n land omgeploeg word, en Jerusalem sal puinhope word en die tempelberg bosrante.

19. Het Hiskía, koning van Juda, en die hele Juda hom ooit gedood? Het hy nie die Here gevrees en die Here om genade gesmeek, sodat dit die Here berou het oor die onheil wat Hy teen hulle gespreek het nie? En ons is besig om ons siele ’n groot onheil te berokken!

20. En daar was ook ’n man wat in die Naam van die Here geprofeteer het, Uría, die seun van Semája, van Kirjat-Jeárim; en hy het geprofeteer teen hierdie stad en teen hierdie land ooreenkomstig al die woorde van Jeremia.

21. Maar toe koning Jójakim en al sy helde en al die vorste sy woorde hoor, het die koning probeer om hom dood te maak. Maar Uría het dit gehoor en bevrees geword en gevlug en in Egipte gekom.

22. Toe stuur koning Jójakim manne na Egipte, Élnatan, die seun van Akbor, en manne saam met hom, na Egipte toe.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 26