Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 2:10-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Want gaan oor na die eilande van die Kittiërs, en kyk; en stuur na Kedar, en gee daar goed ag op; en kyk of so iets gebeur het:

11. of ’n nasie sy gode verruil — wat nie eers gode is nie. Maar my volk het sy heerlikheid verruil vir wat geen voordeel bring nie.

12. Verbaas julle hieroor, o hemele, en huiwer, verstyf heeltemal van skrik, spreek die Here.

13. Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.

14. Is Israel ’n dienskneg? Of is hy ’n bediende wat in die huis gebore is? Waarom het hy dan ’n buit geword?

15. Die jong leeus het oor hom gebrul, hulle het hul stem laat hoor en van sy land ’n woesteny gemaak; sy stede is verwoes, sonder inwoner.

16. Ook skeer die kinders van Nof en Tagpánhes jou die hoofskedel kaal.

17. Het jou verlating van die Here jou God in die tyd toe Hy jou op die pad gelei het, jou dit nie berokken nie?

18. Wat het jy dan nou te doen met die pad na Egipte, om die water van die Nyl te drink? En wat het jy te doen met die pad na Assur, om die waters van die Eufraat te drink?

19. Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerighede sal jou straf; weet dan en sien dat dit verkeerd en bitter is dat jy die Here jou God verlaat het, en dat my vrees nie by jou is nie, spreek die Here, die Here van die leërskare.

20. Want van ouds af het jy jou juk verbreek, jou stroppe stukkend geruk. En jy het gesê: Ek sal nie dien nie; want op elke hoë heuwel en onder elke groen boom gaan jy lê om te hoereer.

21. Nogtans het Ek jou geplant as ’n edele wingerdstok, as heeltemal egte saad; maar hoe is jy vir My verander in wilde lote van ’n vreemde wingerdstok!

22. Want al sou jy jou was met loog en baie seep vir jou neem, tog bly jou ongeregtigheid ’n vlek voor my aangesig, spreek die Here Here.

23. Hoe kan jy sê: Ek is nie verontreinig nie; ek het nie agter die Baäls aan geloop nie? Kyk jou weg in die dal; weet wat jy gedoen het, jou vinnige jong kameelkoei wat rond hardloop!

24. ’n Wilde-eselin, gewend aan die woestyn, wat in haar heftige begeerte die wind opsnuiwe — haar hittigheid, wie sal dit keer? Almal wat haar soek, hoef hulle nie te vermoei nie; in haar maand sal hulle haar kry.

25. Hou jou voet terug, dat dit sy skoen nie verloor nie; en jou keel, dat dit nie dors word nie. Maar jy sê: Dit is tevergeefs, nee; want ek het vreemdes lief en sal agter hulle aan loop.

26. Soos ’n dief in die skande kom as hy uitgevind word, so het die huis van Israel in die skande gekom; hulle, hulle konings, hulle vorste en hulle priesters en hulle profete,

Lees volledige hoofstuk Jeremia 2