Ou Testament

Nuwe Testament

Génesis 47:6-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Egipteland lê voor jou oop; laat jou vader en jou broers in die beste deel van die land woon; hulle kan in die land Gosen woon. En as jy weet dat daar onder hulle bekwame manne is, stel hulle dan aan as vee-opsigters oor my eiendom.

7. Toe bring Josef sy vader Jakob in en stel hom aan Farao voor. En Jakob het Farao gegroet met ’n seënwens.

8. Daarop sê Farao vir Jakob: Hoeveel is die dae van jou lewensjare?

9. En Jakob het Farao geantwoord: Die dae van die jare van my vreemdelingskap is honderd-en-dertig jaar. Min in getal en vol teëspoed was die dae van my lewensjare, en hulle het nie gehaal by die dae van die lewensjare van my vaders gedurende die dae van hulle vreemdelingskap nie.

10. Toe het Jakob Farao gegroet met ’n seënwens en van Farao af weggegaan.

11. En Josef het vir Jakob en sy broers woonplekke aangewys en aan hulle besitting in Egipteland gegee, in die beste deel van die land, in die landstreek Raämses, soos Farao beveel het.

12. En Josef het sy vader en sy broers en die hele huis van sy vader met brood onderhou ooreenkomstig die getal van die kinders.

13. En daar was in die hele land geen brood nie, want die hongersnood was baie swaar, sodat Egipteland en die land Kanaän uitgeput was weens die hongersnood.

14. En Josef het al die geld versamel wat in Egipteland en in die land Kanaän te vinde was, vir die koring wat hulle gekoop het, en Josef het die geld in die paleis van Farao gebring.

15. En toe die geld in Egipteland en in die land Kanaän op was, het al die Egiptenaars na Josef gekom en gesê: Gee vir ons brood! En: Waarom moet ons voor u oë sterwe, want die geld is gedaan?

16. En Josef antwoord: Gee julle vee, dan sal ek dit aan julle gee vir julle vee as die geld gedaan is.

17. Toe bring hulle hul vee na Josef, en Josef het aan hulle brood gegee vir die perde en die besitting aan kleinvee en beeste en vir die esels; en hy het hulle dié jaar versorg met brood vir die waarde van al hulle besittings aan vee.

18. Toe dié jaar om was, het hulle na hom gekom in die tweede jaar en vir hom gesê: Ons kan dit vir my heer nie wegsteek nie, maar die geld is op en die besitting aan vee is my heer s’n. Daar het niks vir my heer oorgebly nie as net ons lyf en ons grond.

19. Waarom moet ons voor u oë te gronde gaan, ons sowel as ons landerye? Koop ons en ons grond vir brood, dan sal ons met ons grond aan Farao diensbaar wees; en gee saadkoring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie, en dat die grond nie woes word nie.

20. So het Josef dan al die grond van Egipte vir Farao opgekoop, want die Egiptenaars het elkeen sy stuk grond verkoop, omdat die hongersnood vir hulle te swaar was. So het die land dan Farao se eiendom geword.

21. En wat die volk betref — hy het hulle laat verhuis na die stede, van die een end van die Egiptiese gebied na die ander end daarvan.

22. Net die grond van die priesters het hy nie gekoop nie; want die priesters het ’n vaste inkomste van Farao ontvang en van hulle vaste inkomste geëet wat Farao hulle toegestaan het. Daarom het hulle hul grond nie verkoop nie.

23. Toe sê Josef aan die volk: Kyk, ek het vandag julle en jul grond vir Farao gekoop: daar is saadkoring vir julle, dat julle die grond kan besaai.

24. En by die insameling moet julle ’n vyfde deel aan Farao afgee, en die ander vier dele sal julle eiendom wees, as saad vir die land en as voedsel vir julleself en die wat in julle huise is, en as voeding vir julle kinders.

25. En hulle antwoord: U het ons lewe gered. Laat ons guns mag vind in die oë van my heer, dan sal ons die dienaars van Farao wees.

Lees volledige hoofstuk Génesis 47