Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 8:2-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Ek kyk toe — en daar was ’n gestalte wat soos vuur gelyk het; van wat soos sy lendene gelyk het en ondertoe, was vuur, en van sy lendene af en boontoe iets net soos ’n hemelglans wat soos blinkende metaal geskyn het.

3. Toe steek Hy iets uit wat die vorm van ’n hand het, en vat my aan die kuifhare van my hoof; en die Gees het my opgehef tussen die aarde en die hemel en my in gesigte van God na Jerusalem gebring, by die ingang van die binneste poort wat na die noorde toe kyk, waar die plek was van die afgodsbeeld van ywer wat ywer verwek.

4. En kyk, die heerlikheid van die God van Israel was daar, ooreenkomstig die verskyning wat ek in die laagte gesien het.

5. En Hy sê vir my: Mensekind, slaan tog jou oë op in die rigting van die noorde; en ek het my oë opgeslaan in die rigting van die noorde — en daar was aan die noordekant van die altaarpoort daardie afgodsbeeld van ywer by die ingang!

6. En Hy sê vir my: Mensekind, sien jy wat hulle doen, die groot gruwels wat die huis van Israel hier aanrig, dat Ek ver van my heiligdom af moet weggaan? Maar jy sal nog ander groot gruwels sien.

7. Daarop bring Hy my by die ingang van die voorhof. Ek kyk toe — en daar was ’n gat in die muur.

8. En Hy sê vir my: Mensekind, breek tog deur die muur heen. En ek het deur die muur heen gebreek, en kyk, daar was ’n deur.

9. Daarop sê Hy vir my: Gaan in, en kyk na die growwe gruwels wat hulle hier doen.

10. Ek gaan toe in en kyk — en daar was allerhande afbeeldinge van afskuwelike kruipende en viervoetige diere, en allerhande drekgode van die huis van Israel wat al rondom op die muur uitgesny was.

11. En sewentig manne uit die oudstes van die huis van Israel het daarvoor gestaan, en Jaäsánja, die seun van Safan, onder hulle; en elkeen het sy wierookpan in sy hand gehad, en die geur van die wolk van reukwerk het opgegaan.

12. Toe sê Hy vir my: Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel in die duisternis doen, elkeen in sy kamers met beeldwerk? Want hulle dink: Die Here sien ons nie; die Here het die land verlaat.

13. En Hy sê vir my: Jy sal nog ander groot gruwels sien wat hulle doen.

14. Hy het my toe gebring na die noordelike ingang van die poort by die huis van die Here, en kyk, daar het die vroue gesit wat Tammus beween.

15. En Hy sê vir my: Het jy dit gesien, mensekind? Jy sal nog ander gruwels, groter as hierdie, sien.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 8