Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 48:11-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Dit moet wees vir die priesters wat geheilig is, die seuns van Sadok, wat my verordening onderhou het, wat nie afgedwaal het by die afdwaling van die kinders van Israel soos die Leviete afgedwaal het nie.

12. So moet dit dan vir hulle ’n offergawe wees uit die offergawe van die land, iets hoogheiligs, op die grens van die Leviete.

13. Verder moet die Leviete, ewewydig met die grens van die priesters, ontvang ’n lengte van vyf-en-twintigduisend el en ’n breedte van tienduisend; die hele lengte moet wees vyf-en-twintigduisend en die breedte tienduisend.

14. En hulle mag niks daarvan verkoop of verruil nie, en die beste van die land mag nie in ander hande oorgaan nie; want dit is heilig aan die Here.

15. Maar die vyfduisend wat in die breedte oorgebly het, langs die vyf-en-twintigduisend — dit sal gewone land wees, bestem vir die stad as woonplek en oop veld; en die stad moet in die middel daarvan wees.

16. En dit is die afmetinge daarvan: die noordekant, vierduisend-vyfhonderd el; en die suidekant, vierduisend-vyfhonderd; en die oostekant, vierduisend-vyfhonderd; en die westekant, vierduisend-vyfhonderd.

17. En as oop veld moet by die stad behoort: Teen die noorde, tweehonderd-en-vyftig el; en teen die suide, tweehonderd-en-vyftig; en teen die ooste, tweehonderd-en-vyftig; en teen die weste, tweehonderd-en-vyftig.

18. En wat oorgebly het in die lengte, ewewydig met die heilige offergawe, tienduisend teen die ooste en tienduisend teen die weste — dit moet ewewydig wees met die heilige offergawe; en die opbrings daarvan sal as onderhoud dien vir die werksmense van die stad.

19. En wat die werksmense van die stad betref — uit al die stamme van Israel moet hulle dit bewerk.

20. Die hele offergawe moet wees vyf-en-twintigduisend el by vyf-en-twintigduisend — vierkantig moet julle die heilige offergawe afgee saam met die stadsbesitting.

21. En wat oorbly, behoort aan die vors, aan weerskante van die heilige offergawe en van die stadsbesitting, langs die vyf-en-twintigduisend, die offergawe, tot by die grens teen die ooste, en na die weste toe langs die vyf-en-twintigduisend tot by die grens teen die weste, net so lank as die stamgedeeltes — dit behoort aan die vors; en die heilige offergawe en die heiligdom van die huis moet in die middel daarvan wees.

22. En van die besitting van die Leviete en die besitting van die stad af, wat in die middel lê van wat die vors s’n is, tussen die grens van Juda en die grens van Benjamin, moet alles aan die vors behoort.

23. Verder die ander stamme. Van die oostekant af tot by die westekant: Benjamin een deel.

24. En naas die gebied van Benjamin, van die oostekant af tot by die westekant: Símeon, een.

25. En naas die gebied van Símeon, van die oostekant af tot by die westekant: Íssaskar, een.

26. En naas die gebied van Íssaskar, van die oostekant af tot by die westekant: Sébulon, een.

27. En naas die gebied van Sébulon, van die oostekant af tot by die westekant: Gad, een.

28. En naas die gebied van Gad, aan die suidekant na die suide toe, moet die grens wees van Tamar af na die twiswaters van Kades en na die spruit van Egipte tot by die Groot See.

29. Dit is die land wat julle as erfenis moet laat toekom aan die stamme van Israel, en dit is hulle gedeeltes, spreek die Here Here.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 48