Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 39:8-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Kyk, dit kom en gebeur, spreek die Here Here. Dit is die dag waarvan Ek gespreek het.

9. En die inwoners van die stede van Israel sal uitgaan en vuur maak en stook met die wapens: klein en groot skilde, met boë en pyle en knopkieries en spiese; en hulle sal daarmee vuur maak sewe jaar lank;

10. sodat hulle geen hout uit die veld sal dra of in die bosse sal kap nie, maar met die wapens vuur sal maak; en hulle sal plunder die wat hulle geplunder het, en berowe die wat hulle beroof het, spreek die Here Here.

11. En in dié dag sal Ek aan Gog ’n plek gee waar ’n graf sal wees in Israel, die dal van die trekkers aan die oostekant van die see, en dit sal vir die deurtrekkers die pad toemaak; en daar sal hulle Gog begrawe en sy hele menigte en dit noem: Die dal van Gog se menigte.

12. En die huis van Israel sal hulle begrawe om die land te reinig, sewe maande lank.

13. En al die mense van die land sal begrawe, en dit sal hulle roem wees, die dag as Ek My verheerlik, spreek die Here Here.

14. Ook sal hulle vaste manne afsonder wat die land deurgaan en die trekkers begrawe wat bo-op die grond oorgebly het, om dit te reinig. Aan die einde van sewe maande sal hulle ’n ondersoek instel,

15. en sien een van hulle wat deur die land trek, ’n mensebeen, dan rig hy daarby ’n merkteken op, totdat die begrawers dit begrawe het in die dal van Gog se menigte.

16. En ook sal die naam van ’n stad wees Hamóna. So sal hulle dan die land reinig.

17. En jy, mensekind, so spreek die Here Here: Sê vir die voëls van allerhande vere en vir al die wilde diere van die veld: Kom bymekaar en kom aan, versamel julle van alle kante by my slagoffer wat Ek vir julle slag, ’n groot slagoffer op die berge van Israel; en eet vlees en drink bloed!

18. Vlees van die helde sal julle eet en bloed van die vorste van die aarde drink — ramme, lammers en bokke en stiere, vetgemaakte diere van Basan almal saam —

19. vet sal julle eet totdat julle versadig is, en bloed drink totdat julle dronk is, van my slagoffer wat Ek vir julle geslag het.

20. En julle sal aan my tafel versadig word van perde en ruiters, van helde en alle soorte krygsmanne, spreek die Here Here.

21. En Ek sal my heerlikheid onder die nasies bring, en al die nasies sal my strafgerig sien wat Ek voltrek het, en my hand wat Ek op hulle gelê het.

22. En die huis van Israel sal weet dat Ek die Here hulle God is, van dié dag af en verder.

23. En die nasies sal weet dat die huis van Israel vanweë hulle ongeregtigheid in ballingskap gegaan het; omdat hulle teen My troubreuk begaan het, het Ek my aangesig vir hulle verberg en hulle in die hand van hul teëstanders oorgegee, sodat hulle almal deur die swaard geval het.

Lees volledige hoofstuk Eségiël 39