Ou Testament

Nuwe Testament

Eségiël 20:5-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. en sê aan hulle: So spreek die Here Here: Die dag toe Ek Israel uitverkies het, het Ek my hand opgehef vir die geslag van die huis van Jakob en My aan hulle bekend gemaak in Egipteland; ja, Ek het my hand vir hulle opgehef en gesê: Ek is die Here julle God.

6. Op dié dag het Ek my hand vir hulle opgehef, om hulle uit Egipteland uit te lei na ’n land wat Ek vir hulle uitgesoek het, wat oorloop van melk en heuning — ’n sieraad is dit van al die lande.

7. En Ek het aan hulle gesê: Gooi weg, elkeen die verfoeisels van sy oë, en verontreinig julle nie met die drekgode van Egipte nie: Ek is die Here julle God.

8. Maar hulle was wederstrewig teen My en wou na My nie luister nie; niemand het die verfoeisels van sy oë weggegooi of die drekgode van Egipte laat staan nie. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet, om my toorn teen hulle te laat uitwoed in Egipteland.

9. Maar Ek het gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies onder wie hulle gewees het nie, voor wie se oë Ek My bekend gemaak het aan hulle, om hulle uit Egipteland uit te lei.

10. En Ek het hulle uit Egipteland uitgelei en hulle in die woestyn gebring.

11. En Ek het hulle my insettinge gegee en my verordeninge aan hulle bekend gemaak, wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe.

12. Daarby het Ek ook my sabbatte aan hulle gegee om ’n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die Here, is wat hulle heilig.

13. Maar die huis van Israel was wederstrewig teen My in die woestyn; hulle het nie in my insettinge gewandel nie en my verordeninge verwerp, wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe; en my sabbatte het hulle baie ontheilig. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet in die woestyn om hulle te vernietig.

14. Maar Ek het gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgelei het nie.

15. So het Ek dan ook my hand vir hulle opgehef in die woestyn, dat Ek hulle nie sou bring in die land wat Ek aan hulle gegee het nie, wat oorloop van melk en heuning — ’n sieraad is dit van al die lande;

16. omdat hulle my verordeninge verwerp het en in my insettinge nie gewandel het nie en my sabbatte ontheilig het; want hulle hart het agter hul drekgode aan geloop.

17. Maar my oog het hulle verskoon, sodat Ek hulle nie verdelg het nie en geen einde aan hulle gemaak het in die woestyn nie.

18. Maar Ek het aan hulle kinders in die woestyn gesê: Wandel nie in die insettinge van julle vaders nie en onderhou nie hulle verordeninge nie en verontreinig julle nie met hulle drekgode nie.

19. Ek is die Here julle God; wandel in my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit.

20. En heilig my sabbatte; en hulle sal ’n teken wees tussen My en julle, dat julle kan weet dat Ek die Here julle God is.

21. Maar die kinders was wederstrewig teen My: hulle het nie gewandel in my insettinge en my verordeninge nie onderhou om dit te doen nie — wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe; hulle het my sabbatte ontheilig. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet, om my toorn te laat uitwoed teen hulle in die woestyn.

22. Maar Ek het my hand teruggetrek en gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgelei het nie.

23. Tog het Ék my hand vir hulle opgehef in die woestyn, dat Ek hulle sal versprei onder die nasies en hulle sal verstrooi in die lande;

Lees volledige hoofstuk Eségiël 20