Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 5:16-33 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. Eer jou vader en jou moeder soos die Here jou God jou beveel het, dat jou dae verleng mag word en dat dit met jou goed mag gaan in die land wat die Here jou God aan jou gee.

17. Jy mag nie doodslaan nie.

18. En jy mag nie egbreek nie.

19. En jy mag nie steel nie.

20. En jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.

21. En jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie; en jy mag nie na jou naaste se huis hunker nie — na sy landerye of sy dienskneg of sy diensmaagd, sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.

22. Met hierdie woorde het die Here julle hele vergadering op die berg, uit die vuur, die wolk en die wolkedonkerheid met ’n groot stem toegespreek, en niks meer nie; en Hy het dit op twee kliptafels geskrywe en dit aan my gegee.

23. En toe julle die stem uit die duisternis hoor, terwyl die berg met vuur brand, het julle na my toe aangekom, al die hoofde van julle stamme en julle oudstes,

24. en gesê: Kyk, die Here onse God het ons sy heerlikheid en sy grootheid laat sien, en ons het sy stem uit die vuur gehoor; vandag het ons gesien dat God met die mens spreek en hy in die lewe bly.

25. Maar waarom moet ons nou sterwe? Want hierdie groot vuur sal ons verteer. As ons die stem van die Here onse God nog langer hoor, sal ons sterwe.

26. Want wie is daar van alle vlees wat die stem van die lewende God uit die vuur hoor spreek het soos ons en in die lewe gebly het?

27. Gaan ú naderby en hoor alles wat die Here onse God sal sê; dan kan ú ons alles meedeel wat die Here onse God met u sal spreek, en ons sal dit hoor en doen.

28. En die Here het die stem van julle woorde gehoor toe julle met my gespreek het. Toe sê die Here vir my: Ek het gehoor die stem van die woorde van hierdie volk wat hulle met jou gespreek het; dit is alles goed wat hulle gespreek het.

29. Ag, as hulle maar so ’n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan.

30. Gaan sê vir hulle: Gaan maar terug na julle tente toe.

31. Maar jy, bly hier by My staan, dat Ek jou kan meedeel al die gebooie en die insettinge en die verordeninge wat jy hulle moet leer, dat hulle dit kan doen in die land wat Ek hulle sal gee om dit in besit te neem.

32. Sorg dan dat julle doen soos die Here julle God julle beveel het; julle mag nie regs of links afwyk nie.

33. In al die weë wat die Here julle God julle beveel het moet julle wandel, sodat julle kan lewe en dit met julle goed kan gaan en julle die dae kan verleng in die land wat julle in besit sal neem.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 5