Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 4:6-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ’n wyse en verstandige volk.

7. Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die Here onse God so dikwels as ons Hom aanroep?

8. En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?

9. Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak:

10. die dag dat jy voor die aangesig van die Here jou God by Horeb gestaan het, toe die Here aan my gesê het: Vergader die volk vir My, en Ek sal hulle my woorde laat hoor, dat hulle kan leer om My te vrees al die dae wat hulle op die aarde lewe, en dit aan hulle kinders kan leer.

11. Toe het julle nader gekom en onder aan die berg gaan staan; en die berg het met vuur gebrand tot in die middel van die hemel, met duisternis, wolke en wolkedonkerheid.

12. En die Here het met julle uit die vuur gespreek; julle het ’n stem van woorde gehoor, maar geen verskyning gesien nie — net ’n stem was daar.

13. Toe het Hy aan julle sy verbond verkondig wat Hy julle beveel het om te doen, die tien woorde, en dit op twee kliptafels geskrywe.

14. Ook het die Here my in dié tyd bevel gegee om julle die insettinge en verordeninge te leer, dat julle dit kan doen in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem.

15. Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele — want julle het géén verskyning gesien op die dag dat die Here by Horeb uit die vuur met julle gespreek het nie —

16. sodat julle nie verderflik handel deurdat julle vir julle ’n gesnede beeld, ’n gelykenis van enige afgodsbeeld, maak nie: ’n afbeelding van man of vrou,

17. ’n afbeelding van enige dier wat op die aarde is, ’n afbeelding van enige gevleuelde voël wat in die lug vlieg,

18. ’n afbeelding van enigiets wat op die aarde kruip, ’n afbeelding van enige vis wat in die water onder die aarde is;

19. dat jy ook jou oë nie na die hemel opslaan, en as jy die son sien en die maan en die sterre, die hele leër van die hemel, jou laat verlei en voor hulle neerbuig en hulle dien nie — dinge wat die Here jou God aan al die volke onder die hele hemel uitgedeel het.

20. Maar die Here het julle geneem en julle uit die ystersmeltoond, uit Egipte, uitgelei om sy erfvolk te wees soos dit vandag is.

21. Ook was die Here toornig op my om julle ontwil, en Hy het gesweer dat ek oor die Jordaan nie sal gaan en nie sal kom in die goeie land wat die Here jou God jou as erfenis sal gee nie.

22. Want ek sal in hierdie land sterwe, ek sal oor die Jordaan nie gaan nie; maar julle sal oorgaan en daardie goeie land in besit neem.

23. Neem julle in ag dat julle die verbond van die Here julle God, wat Hy met julle gesluit het, nie vergeet en vir julle geen gesnede beeld maak nie — ’n gelykenis van enigiets wat die Here jou God jou verbied het.

24. Want die Here jou God is ’n verterende vuur, ’n jaloerse God.

25. As jy kinders en kindskinders sal verwek en julle in die land verouderd sal wees en verderflik handel deurdat julle ’n gesnede beeld maak, ’n gelykenis van enigiets, en doen wat verkeerd is in die oë van die Here jou God om Hom te terg,

26. dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem; julle sal die dae daarin nie verleng nie, maar sekerlik verdelg word.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 4