Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 3:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DAARNA het ons weggedraai en op pad na Basan opgetrek; en Og, die koning van Basan, het uitgetrek ons tegemoet, hy en sy hele volk, om te veg by Edréï.

2. Toe het die Here vir my gesê: Wees nie bevrees vir hom nie, want Ek gee hom en sy hele volk en sy land in jou hand; en jy moet met hom doen soos jy gedoen het met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het.

3. En die Here onse God het ook Og, die koning van Basan, en sy hele volk in ons hand gegee, sodat ons hom verslaan het, totdat daar van hom niemand oor was wat vrygeraak het nie.

4. En ons het in dié tyd al sy stede ingeneem; daar was geen vesting wat ons van hulle nie afgeneem het nie: sestig stede, die hele landstreek Argob, die koninkryk van Og in Basan.

5. Al hierdie stede was versterk met hoë mure, poorte en grendels, behalwe ’n groot menigte onbemuurde stede.

6. En ons het hulle met die banvloek getref soos ons met Sihon, die koning van Hesbon, gedoen het deur elke stad, manne, vroue en kinders met die banvloek te tref.

7. Maar al die vee en die buit van die stede het ons vir ons geroof.

8. So het ons dan in dié tyd die land uit die hand van die twee konings van die Amoriete duskant die Jordaan geneem, van die Arnonrivier af tot by die berg Hermon —

9. die Sidoniërs noem Hermon Sirjon; maar die Amoriete noem dit Senir —

10. al die stede van die gelykveld en die hele Gílead en die hele Basan tot by Salga en Edréï, stede van die koninkryk van Og in Basan.

11. Want Og, die koning van Basan, het net alleen oorgebly van die Refaïete. Is sy ledekant, ’n ysterledekant, nie daar in Rabba van die kinders van Ammon nie? Nege el is sy lengte en vier el sy breedte, gewone elle.

12. En hierdie land het ons in dié tyd in besit geneem: van Ároër af, wat by die Arnonrivier lê, en die helfte van die gebergte van Gílead met die stede daarvan het ek aan die Rubeniete en die Gadiete gegee.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 3