Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 5:11-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Daarom, omdat julle die arm man vertrap en van hom ’n heffing van koring neem, het julle huise van gekapte klippe gebou, maar julle sal nie daarin woon nie; julle het pragtige wingerde geplant, maar julle sal die wyn daarvan nie drink nie.

12. Want Ek weet dat julle oortreding menigvuldig en julle sondes geweldig is, julle wat die vyande is van die regverdige, wat omkoopgeld aanneem en die behoeftiges wegstoot in die poort.

13. Daarom swyg die verstandige in so ’n tyd, want dit is ’n onheilspellende tyd.

14. Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie, sodat julle kan lewe en die Here, die God van die leërskare, só met julle kan wees soos julle sê.

15. Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is, en handhaaf die reg in die poort — miskien sal die Here, die God van die leërskare, Hom ontferm oor die oorblyfsel van Josef.

16. Daarom, so sê die Here, die God van die leërskare, die Here: Op al die pleine weeklag! En op al die strate sal hulle sê: Ag, ag! En hulle sal na die landbouer roep om te treur, en te weeklaag na die wat verstaan om treurliedere te sing.

17. Ook sal daar in al die wingerde weeklag wees wanneer Ek in jou midde deurtrek, sê die Here.

18. Wee die wat na die dag van die Here verlang! Wat sal tog die dag van die Here vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie.

19. Soos wanneer iemand vlug vir ’n leeu, maar ’n beer loop hom raak; of hy kom in die huis en leun met sy hand teen die muur, en ’n slang byt hom!

20. Is die dag van die Here nie duisternis en geen lig nie, ja, donkerheid sonder ’n ligstraal?

21. Ek haat, Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle aan julle feestye nie.

22. Want al bring julle vir My brandoffers saam met julle spysoffers, Ek het daar geen welbehae in nie, en die dankoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie met welgevalle aan nie.

Lees volledige hoofstuk Amos 5