Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 7:4-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Maar in dieselfde nag kom die woord van die Here tot Natan en sê:

5. Gaan sê aan my kneg, aan Dawid: So spreek die Here: Sou jý vir My ’n huis bou om in te woon?

6. Ek het tog in geen huis gewoon van die dag af dat Ek die kinders van Israel uit Egipte laat optrek het tot vandag toe nie; maar Ek het rondgetrek in ’n tentwoning.

7. Oral waar Ek onder al die kinders van Israel rondgetrek het, het Ek ooit ’n woord gespreek met een van die stamme van Israel, wat Ek aangestel het om my volk Israel op te pas, en gesê: Waarom bou julle nie vir My ’n huis van sederhout nie?

8. So moet jy dan nou aan my kneg, aan Dawid, sê: So spreek die Here van die leërskare: Ek self het jou geneem uit die weiveld agter die skape weg, om ’n vors te wees oor my volk, oor Israel;

9. en Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en het al jou vyande voor jou uitgeroei; en Ek sal vir jou ’n groot naam maak soos die naam van die grotes wat op die aarde is;

10. en Ek sal vir my volk Israel ’n plek bestel en hom plant, dat hy op sy eie plek kan woon en nie langer verontrus word nie. En kwaaddoeners sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie,

11. naamlik van die dag af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. Maar Ek sal jou rus gee van al jou vyande; en die Here gee jou te kenne dat die Here vir jou ’n huis sal stig.

12. As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig.

13. Hý sal vir my Naam ’n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid.

14. Ek sal vir hom ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ’n menslike roede en met slae van mensekinders.

15. Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit onttrek het aan Saul wat Ek voor jou aangesig verwyder het.

16. En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.

17. Volgens al hierdie woorde en volgens hierdie hele gesig, so het Natan met Dawid gespreek.

18. Koning Dawid het toe ingegaan en voor die aangesig van die Here gebly en gesê: Wie is ek, Here Here, en wat is my huis, dat U my tot hiertoe gebring het?

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 7