Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 19:4-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. En die koning het sy gesig toegemaak, en die koning het hardop uitgeroep: My seun Absalom! Absalom, my seun, my seun!

5. Toe kom Joab by die koning in die huis en sê: U het vandag die aangesig van al u dienaars beskaamd gemaak, wat vandag u lewe en die lewe van u seuns en dogters en die lewe van u vroue en die lewe van u byvroue gered het,

6. deur lief te hê diegene wat u haat, en te haat diegene wat u liefhet; want u gee vandag te kenne dat owerstes en onderdane vir u niks is nie, want ek merk vandag dat, as Absalom lewendig en ons almal vandag dood was, dit dan in u oë reg sou gewees het.

7. Staan dan nou op, gaan uit en spreek na die hart van u dienaars, want ek sweer by die Here — as u nie uitgaan nie, sal sekerlik vannag geen man by u bly nie; en dit sal vir u ’n groter onheil wees as al die onheile wat u oorgekom het van u jeug af tot nou toe.

8. En die koning het opgestaan en in die poort gaan sit; en hulle het die hele volk laat weet en gesê: Kyk, die koning sit in die poort. Daarna het die hele volk voor die koning gekom. Maar Israel het gevlug elkeen na sy tente toe.

9. EN die hele volk onder al die stamme van Israel het onder mekaar getwis en gesê: Die koning het ons verlos uit die hand van ons vyande, en hý het ons gered uit die hand van die Filistyne, en nou moes hy die land uit vlug vir Absalom;

10. en Absalom wat ons oor ons gesalf het, het in die geveg gesneuwel: waarom is julle dan nou nalatig om die koning terug te bring?

11. Toe het koning Dawid gestuur na Sadok en Ábjatar, die priesters, om te sê: Spreek met die oudstes van Juda en vra: Waarom sou julle die laastes wees om die koning terug te bring na sy huis? (Die gesegde van die hele Israel het naamlik die koning in sy huis bereik.)

12. Julle is my broers; my been en my vlees is julle: waarom sou julle dan die laastes wees om die koning terug te bring?

13. En vir Amása moet julle sê: Is jy nie my been en my vlees nie? Mag God so aan my doen en so daaraan toedoen as jy nie al die dae leërowerste voor my in die plek van Joab sal wees nie!

14. So het hy dan die hart van al die manne van Juda sonder uitsondering geneig, sodat hulle die koning laat weet het: Kom terug, u met al u dienaars.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 19