Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 16:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. NADAT Dawid van die top af ’n entjie verder getrek het, kom Siba, die dienaar van Mefibóset, meteens hom tegemoet met ’n paar opgesaalde esels en op hulle tweehonderd brode en honderd rosynekoeke en honderd somervrugte en ’n sak wyn.

2. En die koning het Siba gevra: Wat wil jy hiermee maak? En Siba sê: Die esels is vir die huis van die koning om op te ry, en die brood en die somervrugte vir die dienaars om te eet, en die wyn vir die vermoeides in die woestyn om te drink.

3. En die koning vra: Maar waar is die seun van jou heer? En Siba sê vir die koning: Kyk, hy het daar in Jerusalem gebly, want hy dink: Vandag sal die huis van Israel my vader se koningskap aan my teruggee.

4. Daarop sê die koning vir Siba: Kyk, alles wat aan Mefibóset behoort, is joue. En Siba sê: Ek buig my neer! Mag ek genade vind in u oë, my heer die koning!

5. En toe koning Dawid tot by Bahúrim gekom het, kom daarvandaan juis ’n man te voorskyn uit die geslag van die huis van Saul met die naam van Símeï, die seun van Gera; hy het uitgekom en gedurigdeur gevloek

6. en Dawid en al die dienaars van koning Dawid met klippe gegooi, alhoewel al die mense en al die helde aan sy regter- en aan sy linkerkant was.

7. En dit het Símeï gesê terwyl hy vloek: Weg, weg, jou bloedvergieter en jou deugniet!

8. Die Here het al die bloed van die huis van Saul, in wie se plek jy koning geword het, op jou laat neerkom; en die Here het die koningskap in die hand van jou seun Absalom gegee, en hier is jy nou in jou ongeluk, omdat jy ’n bloedvergieter is.

9. Toe vra Abísai, die seun van Serúja, vir die koning: Waarom moet hierdie dooie hond my heer die koning vloek? Laat ek tog oorstap en sy kop afslaan!

10. Maar die koning sê: Wat het ek met julle te doen, seuns van Serúja? As hy vloek, en as die Here aan hom gesê het: Vloek Dawid! wie mag dan vra: Waarom maak jy so?

11. Verder het Dawid aan Abísai en al sy dienaars gesê: Kyk, my seun wat uit my liggaam voortgekom het, soek my lewe: hoeveel te meer dan nou die Benjaminiet? Laat hom staan, dat hy vloek, want die Here het hom dit beveel.

12. Miskien sal die Here my ellende aansien en sal die Here my goed vergelde vir die vloek wat my vandag tref.

13. Dawid en sy manne het toe met die pad getrek, terwyl Símeï al langs hom aan die kant van die berg gedurig loop en vloek, en al langs hom met klippe gooi en stof maak.

14. En moeg het die koning en al die mense wat by hom was, by die Jordaan aangekom en daar asem geskep.

15. INTUSSEN het Absalom en al die manskappe, die manne van Israel, in Jerusalem aangekom, en Agitófel was by hom.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 16