Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 14:14-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Want ons moet eenmaal sterwe en soos water wees wat uitgegooi word op die grond, wat ’n mens nie weer kan versamel nie; en God neem die lewe nie weg nie, maar Hy koester gedagtes om ’n verstotene nie van Hom af te stoot nie.

15. Dat ék dan nou kom om hierdie woord met my heer die koning te spreek, was omdat die volk my bevrees gemaak het. Maar u dienares het gedink: Laat ek tog met die koning gaan spreek; miskien sal die koning die wens van u dienares uitvoer.

16. Want die koning sal seker luister om sy dienares te red uit die hand van die man wat probeer om my en my seun saam uit die erfdeel van God uit te roei.

17. Verder het u dienares gedink: Mag tog die woord van my heer die koning tot gerusstelling wees. Want soos ’n engel van God, so is my heer die koning om goed en kwaad te verstaan. En mag die Here u God met u wees!

18. Toe antwoord die koning die vrou en sê: Steek tog vir my niks weg wat ek jou sal vra nie. En die vrou sê: Laat my heer die koning maar spreek.

19. Daarop vra die koning: Het Joab die hand in dit alles met jou saam? En die vrou antwoord en sê: So waar as u siel leef, my heer die koning, dit is onmoontlik om regs of links af te wyk van alles wat my heer die koning gespreek het; ja, u dienaar Joab, hý het my bevel gegee, en hy het al hierdie woorde in u dienares se mond gelê.

20. Om die saak ’n ander voorkoms te gee, het u dienaar Joab hierdie ding gedoen. Maar my heer is wys soos die wysheid van ’n engel van God om alles te weet wat op die aarde gebeur.

21. En die koning sê vir Joab: Nou kyk, ek voer hierdie wens uit. Gaan dan heen, bring die jongman Absalom terug.

22. Daarop val Joab op sy aangesig op die grond en hy buig hom neer en seën die koning. En Joab sê: Vandag weet u dienaar dat ek guns in u oë gevind het, my heer die koning, omdat die koning die wens van sy dienaar uitvoer.

23. En Joab het hom klaargemaak en na Gesur gegaan en Absalom na Jerusalem gebring.

24. En die koning het gesê: Hy kan in sy huis intrek, maar my aangesig mag hy nie sien nie. En Absalom het in sy huis ingetrek, maar die aangesig van die koning nie gesien nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 14