Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 12:16-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. En Dawid het die aangesig van God gesoek vir die kind, en Dawid het ’n tyd lank gevas en na binne gegaan en die hele nag deur op die grond gelê.

17. Daarop kom die oudstes van sy huis na hom en wou hom van die grond laat opstaan, maar hy wou nie; ook het hy geen brood saam met hulle geëet nie.

18. En op die sewende dag het die kind gesterwe; en die dienaars van Dawid was bevrees om hom te vertel dat die kind dood was, want hulle het gesê: Kyk, toe die kind nog in die lewe was, het ons met hom gespreek, maar hy het nie na ons geluister nie. Hoe kan ons dan vir hom sê: Die kind is dood! — hy kan ’n verkeerde ding doen.

19. Maar toe Dawid sien dat sy dienaars onder mekaar fluister, het Dawid gemerk dat die kind dood was. En Dawid sê aan sy dienaars: Is die kind dood? En hulle antwoord: Hy is dood.

20. Toe het Dawid van die grond opgestaan en hom gewas en gesalf en ander klere aangetrek en in die huis van die Here gegaan en aanbid. Daarop het hy in sy huis gekom en gevra dat hulle brood aan hom moet voorsit; en hy het geëet.

21. Toe vra sy dienaars hom: Wat is dit vir ’n ding wat u gedoen het? Ter wille van die lewende kind het u gevas en geween, maar net toe die kind dood was, het u opgestaan en brood geëet.

22. En hy sê: Toe die kind nog in die lewe was, het ek gevas en geween, want ek het gedink: Wie weet — die Here kan my genadig wees, sodat die kind in die lewe bly.

23. Maar nou is hy dood — waarom sou ek dan vas? Sal ek hom nog kan terugbring? Ek gaan na hom, maar hy sal na my nie terugkeer nie.

24. Daarna het Dawid sy vrou Bátseba getroos en by haar ingegaan en by haar geslaap. En sy het ’n seun gebaar, en hy het hom Salomo genoem. En die Here het hom liefgehad,

25. en Hy het hom deur Natan, die profeet, Jedídja laat noem, ter wille van die Here.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 12