Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 9:5-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Daarop sê sy aan die koning: Die woord was waarheid wat ek in my land gehoor het oor u sake en oor u wysheid.

6. En ek het hulle woorde nie geglo nie, totdat ek gekom en my oë gesien het; en kyk, die helfte van u buitengewone wysheid is my nie meegedeel nie; u oortref die gerug wat ek gehoor het.

7. Gelukkig is u manne, en gelukkig hierdie dienaars van u wat gedurig voor u staan en u wysheid hoor!

8. Geloofd sy die Here u God wat behae in u gehad het om u op sy troon as koning vir die Here u God te laat sit! Omdat u God Israel liefhet om dit vir ewig in stand te hou, het Hy u as koning oor hulle aangestel om reg en geregtigheid te doen.

9. Verder het sy aan die koning honderd-en-twintig talente goud en ’n groot menigte speserye en edelgesteentes gegee; en daar was nooit soveel speserye as wat die koningin van Skeba aan koning Salomo gegee het nie.

10. Maar ook die dienaars van Huram en die dienaars van Salomo wat goud uit Ofir gebring het, het sandelhout en edelgesteentes aangevoer.

11. En die koning het van die sandelhout trappe vir die huis van die Here en vir die huis van die koning gemaak, en siters en harpe vir die sangers; en die gelyke daarvan is tevore in die land Juda nie gesien nie.

12. En koning Salomo het aan die koningin van Skeba al haar begeerte gegee, wat sy maar gevra het, bo wat sý na die koning gebring het. Daarop het sy teruggekeer en na haar land getrek, sy en haar dienaars.

13. EN die gewig van Salomo se inkomste aan goud in een jaar was seshonderd-ses-en-sestig talente goud;

14. behalwe wat ingekom het van die koopmans wat rondtrek, en van die handelaars, terwyl ook al die konings van Arabië en die goewerneurs van die land vir Salomo goud en silwer ingebring het.

15. En koning Salomo het tweehonderd groot skilde van geslae goud gemaak; seshonderd sikkels geslae goud het hy op elke groot skild gebruik;

16. en driehonderd klein skilde van geslae goud; driehonderd sikkels goud het hy op elke klein skild gebruik; en die koning het dit in die huis van die Líbanon-bos gesit.

17. Verder het die koning ’n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.

18. En die troon het ses trappe gehad met ’n voetbank van goud, aan die troon bevestig; en leunings aan weerskante by die sitplek, terwyl twee leeus langs die leunings staan.

19. Daarby het twaalf leeus daar op die ses trappe aan weerskante gestaan: so iets is nooit vir enige koninkryk gemaak nie.

20. En die hele drinkservies van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe van die huis van die Líbanon-bos van fyn goud; silwer is in die dae van Salomo as niks gereken nie.

21. Want die koning het skepe gehad wat na Tarsis gevaar het saam met die dienaars van Huram; een maal in drie jaar het die Tarsis-skepe ingekom, gelaai met goud en silwer, ivoor en ape en poue.

22. So het koning Salomo dan groter geword as al die konings van die aarde in rykdom en wysheid.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 9