Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 7:2-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. en die priesters kon nie in die huis van die Here ingaan nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van die Here vervul.

3. En toe al die kinders van Israel sien hoe die vuur en die heerlikheid van die Here op die huis neerdaal, het hulle gekniel met die aangesig na die aarde toe, op die plaveisel, en aanbid en die Here geprys dat Hy goed is, dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is.

4. En die koning en die hele volk was besig om slagoffers voor die aangesig van die Here te slag.

5. Koning Salomo het naamlik die slagoffer van twee-en-twintigduisend beeste en honderd-en-twintigduisend stuks kleinvee geslag; en die koning en die hele volk het die huis van God ingewy,

6. terwyl die priesters op hulle poste gestaan het, ook die Leviete met die musiekinstrumente van die Here, wat koning Dawid gemaak het, om die Here te loof dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is, met die loflied van Dawid wat deur hulle voorgedra is. Intussen het die priesters teenoor hulle op die trompette geblaas, en die hele Israel het gestaan.

7. En Salomo het die middel van die voorhof geheilig wat voor die huis van die Here was; want daar het hy die brandoffers en die vetstukke van die dankoffers berei, omdat die koperaltaar wat Salomo gemaak het, die brandoffer en die spysoffer en die vetstukke nie kon bevat nie.

8. So het Salomo dan in dié tyd die fees gehou, sewe dae lank, en die hele Israel saam met hom, ’n baie groot vergadering, van die ingang na Hamat tot by die spruit van Egipte.

9. En op die agtste dag het hulle ’n feestyd gehou, want die inwyding van die altaar het hulle sewe dae lank gevier en die fees sewe dae lank.

10. En op die drie-en-twintigste dag van die sewende maand het hy die volk na hul tente laat gaan, verheug en vrolik van hart oor die goeie dinge wat die Here aan Dawid en aan Salomo en aan sy volk Israel gedoen het.

11. En toe Salomo die huis van die Here en die huis van die koning voltooi het, en alles wat in Salomo se hart gekom het om in die huis van die Here en in sy huis te maak, voorspoedig uitgevoer het,

12. verskyn die Here in die nag aan Salomo en sê vir hom: Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My as ’n offerhuis verkies.

13. As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur,

14. en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.

15. Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 7