Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 35:1-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DAARNA het Josía in Jerusalem die pasga tot eer van die Here gehou; en hulle het die pasga geslag op die veertiende van die eerste maand.

2. En hy het die priesters hulle dienspligte laat waarneem en hulle versterk vir die diens in die huis van die Here.

3. Ook het hy aan die Leviete, die onderwysers van die hele Israel, wat heilig was aan die Here, gesê: Sit die heilige ark in die huis wat Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, gebou het; julle hoef niks meer op die skouers te dra nie: dien nou die Here julle God en sy volk Israel;

4. en hou julle gereed volgens julle families, volgens julle afdelings, ooreenkomstig die voorskrif van Dawid, die koning van Israel, en die verordening van sy seun Salomo:

5. gaan staan in die heiligdom volgens die afdelings van die families van julle broers, die volksgenote, naamlik vir elkeen daarvan ’n afdeling van ’n Levitiese familie;

6. en slag die pasga en heilig julle en berei dit vir julle broers, om te doen volgens die woord van die Here deur die diens van Moses.

7. En Josía het aan die mense uit die volk afgegee kleinvee, skaaplammers en boklammers, dit alles as paasoffers, aan almal wat daar aanwesig was, dertigduisend in getal, en drieduisend beeste; dit was uit die besitting van die koning.

8. Ook sy vorste het aan die volk, aan die priesters en die Leviete vrywillig afgegee. Hilkía en Sagaría en Jéhiël, die vorste oor die huis van God, het aan die priesters as paasoffers tweeduisend-seshonderd stuks kleinvee en driehonderd beeste gegee.

9. En Konánja en sy broers Semája en Netáneël, en Hasábja en Jeï-el en Jósabad, die owerstes van die Leviete, het aan die Leviete as paasoffers vyfduisend stuks kleinvee en vyfhonderd beeste afgegee.

10. Die diens is toe gereël: die priesters het op hul plek gaan staan, en die Leviete volgens hulle afdelings, volgens die bevel van die koning.

11. Daarna het hulle die pasga geslag, en die priesters het die bloed uit die Leviete se hand geneem en dit uitgegooi, onderwyl die Leviete besig was om af te slag.

12. En hulle het wat vir die brandoffer bestem was, afgesonder om dit aan die familie-afdelings van die mense van die volk te gee om aan die Here te offer, soos geskrywe is in die boek van Moses; en net so met die beeste.

13. En hulle het die pasga op die vuur gebraai volgens die voorskrif, maar die heilige gawes in potte en in kanne en in skottels gekook en gou aan al die mense van die volk gebring.

14. Daarna het hulle dit ook vir hulleself berei en vir die priesters; want die priesters, die seuns van Aäron, was tot in die nag besig met die offer van die brandoffer en die vetstukke; daarom het die Leviete dit vir hulleself en vir die priesters, die seuns van Aäron, berei.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 35